fbpx

Die Hemel en die Hel

In die Bybel is daar baie duidelike uitsprake oor die hemel én die hel.

Die hemel

Daar is drie hemele. Daar is in die Bybel verwysings na drie hemele: (1) Die atmosfeer rondom die aarde, waarin die voëls van die hemel vlieg (Jer. 4:25; Eseg. 38:20; Hos. 2:17; Matt. 6:26; 13:32). (2) Die sterrehemel (Ps. 8:4; Eseg. 32:7; Matt. 24:29; Op. 8:10). (3) Die derde hemel, wat die hoogste hemel is waar God woon (Luk. 2:14; 2 Kor. 12:2-4; Ef. 4:10).

Dit is die woonplek van die Drie-enige God: God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. (Deut. 26:15; Pred. 5:1; Matt. 5:16; Luk. 24:51; Hand. 7:55-56; Ef. 6:9; Kol. 4:1; 1 Thess. 1:10, 4:16; 2 Thess. 1:7; Heb. 8:1; 1 Pet. 1:12; 1 Joh. 5:7).

Dit is ook die woonplek van die engele. (Matt. 22:30; Luk. 2:15, 22:43).

Die koninkryk van die hemel. Hierdie koninkryk heers oor die ganse heelal, en word beheer van die troon van God af wat in die hemel is (Ps. 103:19; Hand. 7:49). Die Here Jesus sit aan die regterhand van die Vader (Mark. 16:19; Rom. 8:34; Ef. 1:20; Kol. 3:1; Heb. 1:3; 1 Pet. 3:22).

Seën én oordeel kom uit die hemel. Die Here verskaf aan sy kinders geestelike voedsel uit die hemel in die vorm van sy Seun, en sy Woord (Joh. 6:31-35; Luk. 4:4). Christene wat die goddelike voorskrifte van die Woord oortree, sondig teen die hemel (Luk. 15:18,21). Oordele word ook uit die hemel op die goddeloses uitgestort (Luk. 17:29; Rom. 1:18).

Die Christene het ‘n hemelse bestemming. Ons burgerskap is in die hemel (Fil. 3:20) omdat ons name ook daar opgeskryf is (Luk. 10:20). Die Here Jesus het in sy vaderhuis, die hemelse stad wat die nuwe Jerusalem genoem word, vir ons ‘n ewige tuiste gaan berei (Joh. 14:2-3; Op. 3:12; 21:1-2). Dit is deel van ons hemelse erfenis (1 Pet. 1:4), en is onbeskryflik mooi (1 Kor. 2:9).

Hemelse skatte. Loon sal in die hemel aan diegene gegee word wat op aarde verdrukking ter wille van Christus verduur het (Luk. 6:22-23). Hulle word aangemoedig om ook op ander maniere vir hulle skatte in die hemel bymekaar te maak deur die werk van die Here finansieel te ondersteun en dinge te doen wat ewigheidswaarde het (Luk. 12:21,33; 18:22; 2 Kor. 8:9; 9:6-7).

Blydskap in die hemel. Daar is blydskap in die hemel oor elke persoon wat gered word en sodoende ‘n lid van hierdie wonderlike koninkryk word (Luk. 15:7). Die blydskap van die heiliges sal volkome wees wanneer hulle met hemelse opstandingsliggame beklee sal wees, wat ver bokant die beperkings van hulle aardse bestaan verhewe is (2 Kor. 5:1-2; Fil. 3:21).

Die hel

Die Here Jesus het meer oor die hel gesê as enige ander prediker in Bybelse tye. Sy waarskuwings oor die verskriklike gevolge van sonde is die reguitste en skerpste in die hele Bybel. Lees stellings deur Jesus oor die hel in: Matt. 5:22; 10:28; 13:40-42,49-50; 23:33; 25:41,46; Mark. 9:43-49; Luk. 16:19-31.

Jesus praat van die hel as ‘n plek waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie (Mark. 9:48). Ons word ook meegedeel dat die hel ‘n ewige vuurpoel is wat met swawel brand (Op. 14:10-11; 19:20). Die ryk man in die hel het geweet dat hy nie net in een of ander geestelike toestand verkeer nie, want hy wou sy broers laat waarsku dat hulle nie ook “in hierdie plek van pyniging kom nie.” Die hel is dus nie ‘n toestand nie, dit is ‘n plek. Dit word duidelik as ‘n plek van liggaamlike smarte beskryf (Luk. 16:22-28). Die ongeredde dooies sal met die tweede opstanding uit hulle grafte opstaan, in veroordeling voor God verskyn, en dan vir ewig in die poel van vuur gewerp word (Dan. 12:2; Op. 20:11-15). Die ongereddes sal dus net so seker as die gereddes uit die dood opgewek word (Joh. 5:28-29).

Dit is van fisiese liggame in die hel wat die Here Jesus gepraat het toe Hy gesê het dat sondaars in die helse vuur gewerp sal word (Matt. 18:8-9), daarom moet ons God vrees omdat Hy mense tot die hel sal veroordeel (Matt. 10:28). Die duiwel het egter mense wat God se Woord nie ken nie, mislei om te glo dat die hel ‘n onwerklike, spookagtige plek is waar daar wél ‘n bietjie ongerief verduur sal word, maar nie bewuste lyding en fisiese smarte nie. Sodoende word alle vrees vir die oordele van God by mense weggeneem. Mag die Here ons help om te besef dat die geweldigste marteling op die verdoemde siele wag wat Christus as Verlosser verwerp het en as gevolg daarvan hel toe sal gaan.

Die woorde wat in die Bybel oor die hel en die verdoemenis van verlore mense gebruik word, is nie woorde met ‘n betekenis van tydelikheid nie. Hulle dui almal ‘n ewigheid van smarte aan (Dan. 12:2; Mark. 3:29; Op. 14:10-11). Hoe diep moet ‘n Christen nie geraak wees wanneer hy aan die hel dink, en al die miljoene wat daarheen op pad is nie! Dit is geen wonder dat die moderne Christendom hulle passie vir die redding van sondaars verloor het nie: hulle het die Bybelse leer oor die hel vergeet. Predikers het die foltering van die verdoemdes wegverklaar! Hoe sterk moet ons motivering vir gebed, prediking en sielewenning nie wees nie wanneer ons daaraan dink dat elke verantwoordelike mens wat hierdie aarde sonder ‘n besliste hartsverandering verlaat, sy oë in die ryk van die verdoemdes sal oopmaak, onderweg na die ewige poel van vuur.

Ongelowiges sê graag dat hulle wat swak, sondige mense is, nie hulle kinders hel toe sal stuur nie, en dat as God sy kinders liefhet, Hy hulle ook nie hel toe sal stuur nie. Die ongeredde sondaars is egter nie God se kinders nie. Niemand is ‘n kind van God voordat hy weergebore is nie. Die ongeredde mense is die kinders van die toorn. Jesus het aan die Fariseërs gesê: “Julle het die duiwel as vader” (Joh. 8:44). God se kinders gaan nooit hel toe nie, maar die duiwel se kinders gaan wél. Hoe dwaas is dit nie om God van verkeerde optrede te beskuldig omdat mense hel toe gaan. Die hel is die gevolg van mense se sonde. Hulle gaan hel toe omdat hulle behoort te gaan, en nie omdat God hulle haat nie. Sonde is ‘n gehate onderwerp vir diegene wat nie van die Bybelse leer oor die hel hou nie, omdat sonde die oorsaak van die hel is (Rom. 6: 23; Eseg. 18:4).

Die Here Jesus het gesê dat ‘n mens se siel meer werd is as al die skatte van die wêreld (Mark. 8:36-37). Sondaars het alles verloor as hulle hul siele verloor het. Ongelukkig is die meeste mense na hierdie grusame bestemming op pad (Matt. 7:13-14). Die vormgodsdienstiges en valse profete sal baie verbaas wees om hulle oë hier oop te maak (Matt. 7:21-23).

Ongeredde mense is altyd boos, maar bestempel graag mekaar as baie goed en opreg. Die Bybel beskryf egter die verdorwe toestand van die natuurlike mens in duidelike terme (Jes. 53:6; Jer. 17:9; Mark. 7:21-22; Rom. 3:10,23). Die ryk man het verdien om hel toe te gaan. Hy was ‘n sondaar. Uiterlik mag hy ordentlik, opreg, intelligent en aangenaam gewees het. In sy hart, waar net die Here kan sien, was hy egter ‘n opsetlike, slegte, hardkoppige, aanhoudende en onbekeerlike sondaar teen God. Onthou dat dit verfynde, geleerde, beskaafde, godsdienstige en biddende manne was wat Christus oorgelewer het om gekruisig te word. Hulle was wolwe in skaapsklere. Wat die Here Jesus van hulle gesê het, beskryf die hart van die beste morele mens wat nie sy vertroue vir redding in Christus gestel het nie (Matt. 23:13,27-28).

Mense wat nie ‘n hartsverandering ondergaan het nie, mag vir ons moreel, skoon of goed lyk, maar dit is net uiterlik so. Die Here, wat die harte van mense ken, weet van die ongeredde hart wat daar in só ‘n mens skuil. Dit was om hierdie rede dat Hy vir Nikodémus, een van die ongeredde godsdiensleiers van Israel, gesê het dat hy weergebore moet word (Joh. 3:3). Jesus het verduidelik waarom sondaars tot bekering moet kom as hulle nie op ‘n ewige verdoemenis wil afstuur nie (Joh. 3:19-20). Die beste bewys van ’n persoon se bose hart is die feit dat hy nog nie na Christus gekom het nie. Die enigste eerlike rede wat enige persoon kan gee waarom hy nog nie na Jesus gekom het nie, is dat hy die sonde liefhet en nie na die Lig wil kom sodat sy sonde bestraf kan word nie. Mense sonder God mag aangename en fyn beskaafde mense wees, maar wat die innerlike mens betref, is hulle beslis nie goed nie. Hulle is sleg omdat hulle dit verkies.

Die verlore persoon se hart is boos genoeg om vir Christus, die Lig van die wêreld, te haat. Mense verwerp Christus doelbewus omdat hulle sonde liefhet. As hulle nie tot bekering kom nie, gaan sulke bose sondaars hel toe. Jesus het gesê dat dit ‘n tevergeefse poging is om God én die sondige wêreld lief te hê, omdat niemand twee here kan dien nie (Matt. 6:24). Die ryk man is nie hel toe omdat hy uiterlik ‘n slegte lewe gelei het nie. Die Bybel sê nie dat hy owerspel of moord gepleeg het, gedobbel, gedrink of gevloek het nie. Sy probleem was innerlik. Soos alle ongeredde mense het hy ‘n bose hart gehad. In sy verborge hart was hy teen God. Onthou dat hy nie hel toe gegaan het omdat hy ryk was nie. Daar is meer arm mense as ryk mense in die hel. Hy is daar omdat hy nie gered is nie! Hy het geweet dat sy broersgered moes word om die hel vry te spring. Hy het dus geweet dat hy in die hel is omdat hy ongered is (Luk. 16:30). Die Here wil nie hê dat enige sondaar verlore gaan nie (Joh. 3:17; 2 Pet. 3:9; 1 Tim. 2:3-4; Eseg. 33:11; Joh. 3:16). Bekeer jou vandag nog tot die Here Jesus en ontvlug sodoende die oordeel van die hel!

Persoonlike toewyding

Ek besef opnuut dat die ewige hemelse vreugde op die gereddes wag, en die ewige straf van die hel op al die ongereddes. Die smal pad lei na die hemel, terwyl die breë pad onwrikbaar op die poel van vuur afstuur. Ek verbind myself by hernuwing aan die groot opdrag om die boodskap van die Here Jesus se reddende genade aan ‘n verloregaande wêreld te verkondig, sodat meer mense uit die koninkryk van die duisternis na die koninkryk na die lig kan oorkom. Hoeveel vormgodsdienstiges is daar nie, wie se lewens op valse fondamente gebou is. Ook hulle moet die waarskuwing aan Nikodémus ernstig ter harte neem dat geen mens die koninkryk van God sal sien as hy nie weergebore is nie. As ons die goddeloses nie waarsku nie en hulle gaan verlore, sal die Here hulle bloed van ons hand eis (Eseg. 33:7-9). Laat ons die Woord van die Here só verkondig dat mense sal besef wat in die ewigheid op hulle wag. Dit is ondenkbaar om ‘n ewigheid in die poel van vuur deur te bring, terwyl die Here Jesus se reddende genade aan almal gebied word.

Vrae

1.    Van hoeveel hemele praat die Bybel?

2.    Wie kan daarvan seker wees dat hulle ‘n huis in die hemel het?

3.    Watter soort straf sal sondaars in die hel ondergaan, en hoe lank sal dit duur?

4.    Waarom sal ‘n liefdevolle God mense hel toe stuur?

5.    Hoe kan mense uit die hel gehou word?

Prof. Johan Malan