Ondersoek of jy Weergebore is: Deel Twee
Deur Marius Wolfaardt
2 Korinthiërs 13v5
“Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie!”
Die uitdaging het na ons gekom om onsself te ondersoek en onsself op die proef te stel. Onder die vergrootglas van God se Woord te kyk. Is ons in die geloof, is jou geloof nog in Jesus Christus? Of is ons op ‘n valse fondament, nie werklik gewederbaar nie.
Ons het na die 7 kenmerke gekyk, wat nie bewys dat ek reddende geloof besit nie.
Nou, wat bewys dan dat ek reddende geloof het?
9 Dinge wat Bewys dat ek Redddende Geloof het
1. Liefde vir God
Die ongelowige rebelleer teen God, waar die ware weergeborene God liefhet met sy hele hart, verstand, siel en al sy krag. God word die hoof van sy geluk. Dis ‘n baie spesifieke liefde. Dis nie daardie selfsugtige liefde wat my geluk die fokuspunt maak nie, om God net te gebruik as ‘n “means to an end” nie. Dis nie die tipe liefde waar ek God gebruik net tot ek bereik het wat ek wil hê nie.
Het jy God Lief? Almal is vinnig om ja te sê, maar hoekom is dit dan so maklik om Sy naam ydelik te gebruik? Het jy Sy heiligheid lief? Nou, hoekom wandel jy nog in sonde?
1 Petrus 1:15-16
“Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”
Het jy Sy wil lief? Nou, hoekom doen jy nie Sy wil nie?
Johannes 15:10:
“As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”
1 Johannes 2:6:
“Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.
God se liefde sê: Romeine 5:5:
“en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.”
2. Berou/ Boetvaardigheid oor Sonde
Omdat ware liefde die hoogste goed soek vir ‘n ander, sal ek sonde ook haat, soos God dit haat. Omrede ek God liefhet met my hele hart, verstand en siel. Sonde het God se Seun doodgemaak!
Ware Berou Beteken:
i.) Daar moet belydenis wees.
ii.) Daar moet ‘n wegdraai wees.
iii.) Daar sal verdriet (bedroefheid) wees oor jou sonde.
Lukas 18:11-13:
“o God, wees my, sondaar, genadig!”
Hiermee spreek die tollenaar sy diepe besef aan sy skuld uit, maar ook sy innige berou oor sy sonde. Jy moet ook aan ‘n einde kom van jouself, erken dat jy ‘n mislukking van jou lewe gemaak het en jou Vertroue in die Here alleen stel.
3. Nederigheid
Ons moet raak soos kinders: nederig, onderdanig en afhanklik van jou Vader.
Byvoorbeeld: Die verlore seun.
Lukas 15:19:
“en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.”
Daar is ‘n hartsverandering. Dis nie meer gee my nie, maar maak my!
4. Toewyding aan God se glorie
Ons doen dit wat ons doen om Hom te verheerlik.
1 Korinthiërs 10:31:
“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”
5. Konstante Gebed
Het jy daardie private gebedslewe? Is jy in noue kontak en gemeenskap met God? Dis daar waar die verhouding lewendig gehou word. Dit is nie rympies voor jy gaan eet of slaap nie!
6. Selflose Liefde
As jy waarlik God liefhet, sal jy liefhê wie Hy liefhet. Ons het Hom lief en ander, want dit is die reaksie van Sy liefde vir ons!
1 Johannes 4:20-21:
“As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.”
7. Afgesonder van die Wêreld
Kyk jy met die oë van ‘n dooie na die wêreld? Of is daar nog dinge in die wêreld wat vir jou aanloklik is?
1 Johannes 2:15:
“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.”
Toets dit bietjie: Hoeveel tyd spandeer jy aan koop of selfs ‘window’ shopping? Is jy heeltyd besig om fisies of met jou oë specials te jaag? Kort-kort het jy nuwe klere en besittings.
8. Geestelike Gehoorsaamheid en Groei
As jy lewe (Geestelik) sal jy groei!
Filippense 1:6:
“omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;”
Johannes 25:2:
“Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.”
Wat Beteken dit? Die Snoeisker van die Here gaan ingelê moet word. Daar moet gedurig dinge uitgesny word om meer vrug te dra. Bv. die klei in die pottebakker se hand, ons is in gehoorsaamheid oorgegee dat Sy wil in ons lewens geskied (seevier).
9. Getuienis van die Heilige Gees
Die getuienis van die Heilige Gees beteken dat die gelowige bewus is van die innerlike getuienis van aanneming met God.
1 Johannes 5:6:
“Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus die Christus; nie deur die water alleen nie, maar deur die water en die bloed; en dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid.”
Galásiërs 4:6:
“En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur,”
Romeine 8:16:
“Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;”
John Wesley het gesê: Die Getuienis van die Gees (Goddelike Gees), ‘n innerlike indruk is op die siel, waardeur die Gees van God direk getuienis lewer tot my Gees dat ek ‘n kind van God is. Ook dat Christus my liefhet, Homself vir my gegee het, al my sondes uitgewis is en selfs ek, met God gerekonsilieer is (verenig).
Hieruit kan ons duidelik sien of ons onsself ondersoek het of ons weergebore is of nie.
Soortgelyke Artikels: