fbpx

Hoe om die Bybel te lees

‘Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.’ Jos 1:8

1. Wat is die Bybel?
Die Bybel is God se boek wat aan ons gegee is om ons van God te vertel. Ons weet daar is ‘n God want ons sien die son, die maan, die duisende sterre en die aarde met sy berge en riviere. Ons kan sien dat daar ‘n magtige een moes gewees het om dit alles te maak, want hierdie dinge kon nie hulself gemaak het nie. Ons weet niks van God totdat ons die Bybel lees. Daar leer ons wie God is, wat God is, wat God gedoen het en wat God nou doen.

2. Is dit moeilik om die Bybel te verstaan?
Sommige gedeeltes is moeilik; maar sommige, met die mees belangrike dinge daarin, is so eenvoudig dat u wat hierdie lees, dit kan verstaan. Lees eers dié dele wat maklik is om te verstaan en laat die moeilike dele vir later.

3. Hoe het die Bybel tot ons gekom?
Dit is lank gelede deur God se diensknegte geskrywe. God het hulle gelei in wat hulle moes skrywe, en het hulle bewaar van foute te begaan. Dis waarom ons alles glo wat ons in die Bybel lees, want dit is God se Woord aan ons. Dit was in baie ou tale geskryf, wat nou in ons eie taal vertaal is, sodat dit ons gidsboek deur ons hele lewe kan wees.

4. Watter deel van die Bybel moet ek eerste lees?
Begin deur die Evangelie volgens Johannes te lees. Dit is die vierde boek van die Nuwe Testament. Dit is ‘n maklike storie van die lewe van die Seun van God, ons Here Jesus Christus. Dit behandel ook Sy dood aan die kruis en Sy opstanding uit die dood. Hier sal u baie leer van wat Hy gedoen het toe Hy byna 2000 jaar gelede in ons wêreld was.

5. Wat moet ek daarna lees?
In die vyfde boek van die Nuwe Testament, “Die Handelinge van die Apostels” genoem, sal u lees wat die Here Jesus Christus gedoen het nadat Hy terug is hemel toe, deur Sy diensknegte, die apostels, hier op aarde. Hier sal u leer hoe Sy gemeente begin het, hoe die eerste Christene bymekaar gekom het in Sy naam om te bid, om “brood te breek” (nagmaal) soos Hy beveel het. U sal ook lees, hoe die apostels en ander Christene gely het vir hulle Heer. Al hierdie dinge sal vir u nuttig wees.

6. Wat moet ek daarna lees?
Dit sal nou vir u voordelig wees om die eerste brief van Paulus aan die Thessalonicense te lees. Dit was geskrywe aan ‘n gemeente van manne en vroue wat nog maar kort vantevore tot bekering gekom het. Hulle was jong Christene. U sal hier lees dat die Here Jesus weer terug kom en wat Hy sal doen wanneer Hy kom.
Nadat u hierdie boeke gelees het kan u begin met die Evangelie volgens Matthéüs, die eerste boek van die Nuwe Testament, en lees dan regdeur tot die laaste hoofstuk van die Bybel. Lees ook in die Ou Testament, Genesis, die eerste boek in die Bybel.

7. Hoe moet ek die Bybel lees?
Nederig. Onthou dat dit God se woord aan u is, en wees bereid om dit as ‘n leerling te ontvang, wat behoefte daaraan het om geleer te word hoe ‘n Christen moet lewe.
Biddend. Voordat u lees, vra God om u te help om te verstaan wat u lees.
Gehoorsaam. Wees gereed om dadelik gehoorsaam te wees aan alles wat God aan u sê om te doen.
Versigtig. Moet nie haastig wees nie, want as u dit vinnig lees sal u nie alles sien wat God wil hê dat u moet sien nie. Lees elke hoofstuk versigtig en probeer om die betekenis daarvan te verstaan.
Daagliks. Lees ‘n hoofstuk of deel van ‘n hoofstuk elke dag.
Taal? Lees dit in u eie taal.


Hier is die raad wat Paulus, die bejaarde apostel, aan ‘n jong man met die naam van Timótheüs gegee het. U sal dit in die Bybel vind in Paulus se tweede brief aan Timótheüs hoofstuk 3, verse 14 tot 17. Lees dit; dink daaroor en lees dit dan weer.
“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die Hele skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Wat is die belangrikste lesse in die Bybel?
Hier is sommige van hulle:

A. Die Bybel leer ons van God. Ons leer dat Hy heilig is en dat ons sondes, al ons verkeerde dade, deur Hom gehaat word. Dit vertel ook dat God ons so lief gehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het om vir ons te red.

B. Die Bybel vertel ons omtrent onsself. Dit sê dat ons almal gesondig het; dat ons verkeerde dinge gedoen het, gesê het en gedink het. Dit vertel ook aan ons dat God ons sal straf vir hierdie sondes.

C. Die Bybel wys vir ons ‘n Verlosser. Dit vertel aan ons hoe die Here Jesus Christus na die wêreld gekom het om sondaars te red; dat Hy hulle plek geneem het en aan die kruis vir hulle gesterf het; dat Hy weer opgestaan het uit die graf en vir ewig lewe om diegene te red en te bewaar wat in Hom glo.


Lees u Bybel aandagtig elke dag en u sal van al hierdie waarhede daar leer. Koning Dawid bid in Psalm 119:18 “Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.” Laat dit ook u gebed wees.