Studies in Christelike Heiligheid
Deur Terry W. Pollard (red.), Bybel Metodiste Kerk, VSA (Vertaal deur Johan Malan)
Opsomming: Hierdie 13 Wesleyaanse lesings oor heiligmaking is opgestel om weekliks oor ‘n tydperk van drie maande aangebied te word.
1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe
Sleutelteks
"Die God en Vader van onse Here Jesus Christus… het ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees" (Ef. 1:3-4).
Sentrale waarheid
Die Bybel leer ons duidelik dat God van sy kinders verwag om heilig te wees.
Les
1 Petrus 1:13-25
13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.
14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.
17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;
18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,
21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God
22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;
23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.
24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.
Uiteensetting van die Les
Inleiding
Heiligheid is ‘n onderwerp wat dikwels deur té veel Christene vermy word. Om een of ander rede is dit vir baie mense ongemaklik om daaroor te praat om heilig te wees. Ons het skynbaar min probleme om heiligheid aan God toe te skryf wanneer ons sing: “Heilig, heilig, heilig, Here God, Almagtig...” Wanneer ons egter die oorgang moet maak om oor die heiligheid van ons eie lewens te praat, stel ons dikwels ‘n karikatuur daarvan voor wat nie vir een van ons aanvaarbaar is nie – ‘n skynheilige persoon wat “heiliger-as-jy” is (holier-than-thou). Die Here Jesus het duidelik hierdie soort lewenstyl wat deur die skrifgeleerdes en Fariseërs beoefen is, verwerp.
In plaas hiervan roep God ons tot ‘n lewe van ware heiligheid. Charles Spurgeon het gesê dat “heiligheid die argiteksplan is wat God gebruik om sy lewende tempel te bou.” Dit is ‘n beeldende opsomming van die onderrig wat Petrus in sy brief oor die belangrike onderwerp van heiligheid gee. Daar is ‘n groot behoefte aan mans en vroue, jongmense en kinders in ons samelewing wat heilige lewens lei.
1. Ondersteun deur die natuur van God (1 Petrus 1:13-16)
Daarom, omgord die lendene van julle verstand (v. 13). Ware heiligheid begin by die behoorlike voorbereiding van ons verstand. Ons moet die inisiatief neem om ons verstand en gemoed voor te berei, want dit moet heilig wees as ons begeer dat ons gedrag heilig moet wees. “Want soos [‘n mens] in sy siel bereken, so is hy” (Spr. 23:7). Paulus se onderrig is ook dat ons die dinge moet bedink wat waar, eerbaar, regverdig, rein, lieflik en loflik is (Fil. 4:8). Die woord wat as nugter vertaal is, het die betekenis van om “bestendig” of “besadig” te wees. Dit is belangrik dat ons verstand en gemoed onder die bestendige beheer van die Heilige Gees sal wees. Hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. ‘n Deel van die voorbereidings vir heiligheid is om die lewe van hoop te leef. Baie Christene faal hierin deurdat hulle neig om negatief, pessimisties, veroordelend en selfs fatalisties te wees. Dit behoort nie so te wees nie! Deur ons geloof in Christus het ons ‘n lewende hoop. Die oorwinning is verseker! Die lewe met Jesus Christus is ‘n eindelose hoop, terwyl dit sonder Hom ‘n hopelose einde het.
Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie (v. 14). Gehoorsaamheid is ‘n grondbeginsel van die Christelike lewe. As ons dissipels van Jesus wil wees, moet ons onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg (Mark. 8:34). Jesus sê dat die persoon wat Hom waarlik liefhet, dié een is wat sy gebooie bewaar (Joh. 14:21). As ons aan Hom gehoorsaam is, sal ons nie ons lewens volgens ons vorige begeerlikhede inrig nie. Hierdie “natuurlike begeertes” bied wel vervulling, maar uiteindelik bring dit ontnugtering en die dood voort. Omdat die hartstogte en begeerlikhede van die vlees in stryd met die lewe van die Gees is, is hulle deel van die gevalle wêreld wat lynreg in stryd met God se doel vir ons én vir die hele skepping is.
Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook heilig word (v. 15). Daar is slegs een wat volkome heilig is. Volgens Petrus is dit Hy wat ons geroep het. Hy is die ware bron van heiligheid. As ons heilig wil wees, moet ons Hom ken, liefhê en gehoorsaam. Ons moet met Hom wandel. Die essensie van ware heiligheid bestaan uit gelykvormigheid aan die natuur en wil van God.
Omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig (v. 16). Dit is ‘n direkte aanhaling uit Levitikus 11:44. Die Ou Testamentiese begrip van heiligheid is om rein en afgeskeie van die sonde te wees. Die Griekse woord wat Petrus hier gebruik, beteken ook om sonder sonde te wees, en onberispelik of vry van onreinheid. Die oproep hier is duidelik. Ons moet heilig wees in alles wat ons doen. Ons moet meer en meer soos die Here Jesus word en leef soos wat Hy leef. God verlang daarna om aan ons ‘n rein hart te skenk, net so seker as wat ‘n fisiese hart vir ‘n oorplanting aan iemand geskenk kan word. D.L. Moody het gesê: ”Dit is baie beter om ‘n heilige lewe te leef as om net daaroor te praat. Ligtorings lui nie klokke en skiet ook nie kanonskote af om die aandag daarop te vestig dat hulle skyn nie – hulle skyn net.” Die stil skoonheid van ‘n heilige lewe is, naas die krag van die Heilige Gees, die sterkste invloed in die wêreld.
2. Geborge in die verlossingsprogram (1 Petrus 1:17-21)
Wandel in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap (v. 17). Petrus herinner ons daaraan dat ons soos vreemdelinge en bywoners moet leef. Ons hoogste roeping is om ons primêre lojaliteit aan die Koning van die konings te betoon. Hierdie aarde is slegs ‘n tydelike woonplek vir ons, omdat ons burgerskap in die ewige koninkryk van God is. Drie keer in sy brief herinner Petrus ons aan God se rol as regter. Ons word ingelig dat die Here sonder aanneming van die persoon oordeel. Met dit in gedagte, moet ons in eerbied en vrees leef. Dit is die soort vrees wat in Handelinge 2:43 beskryf word. Ons moet in die voortdurende erkenning leef van wie God is en wie ons is.
Omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge… losgekoop is nie (v. 18). Ons is nie vrygekoop deur die futiele gedrag en tradisies wat van ons vaders geërf is nie. Een geslag kan slegs tydelike dinge aan die volgende geslag nalaat. Ons kom sonder iets in die wêreld in en sal ook sonder iets weer die wêreld verlaat. Petrus sê dat selfs goud en silwer uiteindelik sal vergaan. Ten beste is hierdie dinge ydel en verganklik. Dit verskaf ‘n valse sin van sekuriteit. Ons is van ‘n ydele lewenswandel verlos wat net op die dinge van hierdie lewe ingestel is. Ons verlossing is nie deur tydelike dinge gekoop nie.
Maar deur die kosbare bloed van Christus (v. 19). Ons is vrygekoop deur die kosbare bloed van Christus, die vlekkelose Lam van God. Hy is die vervulling van die paaslam wat sonder gebrek en vlekkeloos moes wees – die heel beste uit die kudde. Johannes die Doper het Jesus só voorgestel: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Ons redding en heiligheid is inderdaad met die ewige gekoop, met dit wat so kosbaar is dat al die verganklike goud en silwer van die wêreld dit nie kan koop nie – die dood en opstanding van Jesus Christus.
Wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld (v. 20). Jesus het nie sy bloed per ongeluk aan die kruis gestort nie, ook nie as gevolg van ‘n gruwelike fout wat deur haatdraende en sondige mense begaan is nie. Sy dood en die stort van sy bloed was van die begin van die wêreld af deel van God se plan. Paulus bevestig hierdie wonderlike waarheid oor ons verlossing wanneer hy sê dat God die Vader ons in Christus “uitverkies [het] voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (Ef. 1:4). Hoewel Jesus voor die grondlegging van die wêreld verkies is om ons redder te wees, is Hy slegs in hierdie laaste tye as die Verlosser geopenbaar. Die profete het na die Verlosser gesoek, maar in God se volmaakte plan is Hy eers eeue later in Jesus Christus geopenbaar. Petrus sê Hy het verskyn vir diegene wat deur Hom in God sou glo. Hierdie Verlosser is die bron van ons redding en heiligmaking.
Julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het (v. 21). Deur Jesus Christus glo ons in God. Die evangelieboodskap van Johannes 3:16 is deur geloof in Jesus in ons lewens vervul. Dit is die God wat Jesus Christus uit die dode opgewek het. Die lering oor die opstanding van Christus beklee ‘n sentrale plek in die boodskap van Petrus. Dit was prominent in sy preek op Pinksterdag nadat hy met die Heilige Gees vervul is (Hand. 2:31), en is ook die fokus van sy onderrig in hierdie brief: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1 Pet. 1:3). Die diepste begrip vir die opstanding van Jesus Christus het plaasgevind op Pinksterdag toe Petrus met die Heilige Gees vervul is, soos wat Jesus ook beloof het. Hy was toe in staat om in die krag van die verrese Christus te preek. Die God wat Jesus uit die dood opgewek het, is dieselfde God waarin ons glo. Sy krag is elke dag tot ons beskikking terwyl ons ons vertroue in Jesus stel en die Heilige Gees toelaat om in en deur ons te leef. God het ook heerlikheid aan Christus gegee. Die begrip “heerlikheid” kan ook as “aanbidding” vertaal word. Dit is presies hoe ons teenoor die Here Jesus behoort te leef – ons moet eer, lof, aanbidding en heerlikheid aan Hom bring.
3. Ontdek in die Verlossingsplan (1 Petrus 1:22-25)
As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het (v. 22). Liefde is sentraal in ‘n Christelike lewenstyl, want dit is die essensie en karakter van God self (1 Joh. 4:8). Ons liefde moet ongeveinsd wees, en dus suiwer en sonder enige huigelary. Ons moet opreg liefhê – soos God self. Ek kan net vurig liefhê uit ‘n rein hart. Petrus verwys hier na die hartsreiniging wat ons deur die kosbare bloed van die Lam kan verkry – Hy wat sonder gebrek en vlekkeloos is. As ons opreg wil liefhê, moet ons van ons sondes gereinig word deur Jesus Christus. Ons moet dood wees vir onsself en lewend vir God. Ons moet hierdie onvoorwaardelike liefde van God af ontvang sodat ons dit teenoor ander kan uitleef.
Julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike (v. 23). Petrus sê dat die vermoë om God opreg, vurig en uit ‘n rein hart lief te hê, uit die noodsaaklike en wonderlike ervaring van wedergeboorte voortspruit. Vroeër in hoofstuk 1 het Petrus oor ons erfenis geskryf wat onbesmet en onverwelklik is (v. 3, 4). Dit alles is deur die opstanding van Jesus Christus moontlik gemaak.
Alle vlees is soos gras (v, 24, 25). Om hierdie punt te illustreer, haal Petrus Jesaja 40:6-8 aan en sê dat alle vlees soos gras is… die gras verdor en sy blom val af. In teenstelling hiermee bly die woord van die Here tot in ewigheid. Vroeër is dit ook reeds gestel dat “die lewende woord van God tot in ewigheid bly” (v. 23). Die Woord van God sal tot in ewigheid stand hou, so ook liefde en heiligheid. Ons moet nie hieroor verbaas wees nie want God is liefde, God is ewig en God is heilig. Liefde en heiligheid bestaan dus ook vir ewig. Die liefde vergaan nooit nie (1 Kor. 13:8). Die liefde bly vir altyd (1 Kor. 13:13). Dit is liefde uit ‘n rein hart wat in heiligheid bevestig is, wat vir altyd sal bestaan.
Kommentaar oor die Sleutelteks
Die God en Vader van onse Here Jesus Christus… het ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (Ef. 1:3-4).
Ons alwetende God kan nie verras word nie. Voordat die mens in sonde geval het, het God reeds ‘n volledige plan vir sy verlossing uitgewerk. Dit moes slegs in werking gestel word toe die tyd ryp was. Dit is soos wat ‘n argitek die konsep van ‘n gebou op papier vaslê in die vorm van ‘n bloudruk waarin al die besonderhede aangedui word, nog voordat die struktuur self bestaan. Net so het God ook elke detail van die mens wat Hy sou skape, insluitende sy volmaakte verlossingsplan, ten volle beplan. Nog voor die grondlegging van die wêreld het Hy gereël dat sy eniggebore Seun ‘n offer sou word – die volmaakte versoening vir die sonde van die mens. Die verlossingsplan is nie ‘n vinnige idee wat later eers deur God bedink is om ‘n skielike negatiewe ontwikkeling waarmee Hy onkant gevang is, te hanteer nie. Dit is ‘n volmaakte meesterplan deur ‘n alwyse en almagtige God.
Hy het ons uitverkies. “Die verkiesing en die keuse van God is nie willekeurig sodat sommige vir saligheid en andere vir die verderf bestem is sonder inagneming van die ingesteldheid van die individu nie. Die aanbod van redding word aan alle mense gemaak, soos wat die Bybel dit duidelik stel (Joh. 3:16; Rom. 10:13). Die uitverkorenes word dus nie deur ‘n absolute raadsbesluit bepaal nie, maar deur die aanvaarding van die voorwaardes van God se roeping” (Beacon Bible Comm.). Net soos wat Noag gevra het om genade [guns] in die oë van die Here te vind, en dit ook verkry het, kan jy en ek dit ook doen. Jesus het gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Petrus het die volgende kosbare woorde neergeskryf: “Die Here… wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9).
Heilig en sonder gebrek. “Heiligheid en vervolmaking is die einddoel met God se uitverkiesende liefde… God kan geen siel vir verlossing verkies sonder heiligheid nie… Die verkiesing is vir heiligheid. So lank as wat ‘n persoon die sonde liefhet en heiligheid haat, het hy geen bevestiging vir enige verkiesing nie… God red niemand sonder dat Hy hom ook heilig maak nie” (Pulpit Comm.).
Heilig. In Efésiërs 1:1 word na die gemeentelede as “heiliges” verwys. Hierdie woord kom dikwels in die Bybel voor. In Efésiërs 1:4 is God se oproep tot heiligheid ook baie duidelik.
Sonder gebrek. Die begrip “sonder gebrek” (Ef. 1:4; 1 Pet. 1:19; Kol. 1:22; Judas 1:24; Op. 14: 5) word ook vertaal as “sonder vlek” (Ef. 5:27) en “sonder smet” (Heb. 9:14). Die volmaaktheid wat hier vereis word, sou sekerlik die sterflike mens oorweldig het as dit nie was vir die verdienste van Christus se gestorte bloed nie. Deur daardie offer is ons bevoorreg om deelgenote van God se wonderlike genade te wees. Christus het die keuse van heiligheid in die hemel vír ons gemaak. Stem jy in met hierdie keuse wat vir jou gemaak is?
Leerstellige Bespreking
Net soos wat die fondament die belangrikste deel van ‘n fisiese gebou is, is dit ook die geval met ‘n geestelike gebou. Eersgenoemde kan nie op sand gebou word nie, want dan sal dit val. Net so ook kan die geestelike gebou nie op enige ander fondament as God gebou word nie, deur die voorsiening van die God-mens, ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Die bloudruk vir ons heiligheid is aan die natuur van God self ontleen. Die Here Jesus is die verbindingskakel wat die gevalle mens in staat stel om herstel te word tot “heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14). Die Heilige Gees is die doeltreffende bouer en veilige interpreteerder van die bloudruk [die Bybel] omdat Hy ook God is!
Net soos wat die Nuwe Testament dit stel dat “God is liefde” (1 Joh. 4:8), so konstateer die Ou Testament dat God heilig is (Lev. 11:45).
Wat is heiligheid in die Ou Testament? Dit is die onveranderlike natuur van God wat die volle voorstelling van die somtotaal van sy volmaakte karaktertrekke is. Heiligheid in die Here is die toestand waarin ons geen morele onvolmaaktheid in die hele natuur van God vind nie. Liefde is heiligheid in aksie. Uit hierdie handelinge blyk die totale morele volmaaktheid en objektiwiteit in dié groot liefde. Dit is vanselfsprekend dat só ‘n goddelike wese die mensdom kan skape én herstel na die toestand van afgeleide heiligheid wat ons op grond van ons verhouding tot God het.
“Die geskiedenis van die woord heiligheid in die Ou Testament vertoon die geleidelike oorgang van die idee van afsondering af na dié van heiligheid. Dit volg ‘n koers waarin die kwantitatiewe idee van onthouding verander na die kwalitatiewe idee van aktiewe en absolute reinheid. Godsdienstigheid word eties sodat dit nie alleen meer godsdienstig kan word nie, maar die één godsdiens vir die gewete én vir die wêreld. Die een God kan slegs die heilige God wees” (Exploring Christian Holiness, Vol. 1).
Aangesien die Ou Testament die Nuwe Testament in verborge vorm is, en die Nuwe Testament die Ou Testament in sy geopenbaarde vorm, kan ons verwag om ‘n duideliker prentjie van die grondslag van heiligheid in die Nuwe Testament te kry. Dit is presies wat ons kry!
Ons hoef nie verder as Mattheus 3:11 te gaan om ‘n ondervinding te kry wat verder as die doop van Johannes die Doper gaan nie. Sy doop was dieselfde as wat die dissipels voor Pinksterdag gehad het. Jesus het self gesê dat hulle name in die hemel opgeskryf is (Luk. 10:20). Daardie ondervinding van bekering vorm die grondslag vir inisiële heiligheid, wat verder opgehelder word deur die stelling oor die toekomstige doop met die Heilige Gees en met vuur. Geen persoon moet die eerste werk van genade geringskat om die ander een hoër aan te slaan nie. Die tweede werk van genade is gebaseer op die feit dat die eerste een werk!
In die belangrike bergpredikasie is ‘n verdere grondslag vir heiligheid gelê toe Jesus gesê het: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matt. 5:8). Daar is geen manier waarop ons die eenvoudige teenwoordige tyd kan vermy, waardeur aangedui word dat daardie mense dié reinheid nóú moet besit nie! Die gevolg daarvan kan ook nie betwyfel word nie! Ons glo die impak van: “…hulle sal God sien” het nie slegs ‘n toekomstige verwysing nie, maar is ook die versekering dat ons Hom nou sal sien en met Hom wandel. Die grondslag vir heiligheid word dwarsdeur die Nuwe Testament aangetref.
In Handelinge 2 word die historiese oorsprong van die vervulling met die Heilige Gees bespreek. Dwarsdeur hierdie boek is die ondervindings van mense opgeteken wat die vervulling van hierdie belofte in hulle lewens ervaar het.
Romeine 6 toon duidelik aan dat heiligheid deel van God se plan vir ons lewens is. Romeine 12:1-2 dui ook aan dat daar ‘n duidelike basis is vir ‘n huidige ondervinding van heiligmaking vir mense wat reeds “broeders” is.
Die “meer uitnemende weg” van 1 Korinthiërs 13 is ‘n lewe van suiwer liefde wat die Korinthiërs vroeër nog nie geken het nie. Enigeen wat daardie karaktertrekke het, ondervind beslis ‘n lewe wat met die Heilige Gees vervul is.
Dit is ‘n moeilike taak om met die grondslae van ‘n tweede werk van genade, of heiligmaking, weg te doen wanneer al die woorde in ag geneem word waardeur aangedui word wat met mense gebeur wat heiligmaking ervaar. Die volgende is ‘n paar van hierdie woorde, asook hulle betekenisse: Romeine 6:6 gebruik ‘n Griekse woord wat aandui dat die liggaam van sonde tot niet gemaak moet word. In 2 Korinthiërs 7:1 tref ons mense aan wat vermaan word om hulleself van alle besoedeling van die vlees en die gees te reinig. Ook in Handelinge 15:9 word aangedui dat die dissipels se harte op Pinksterdag gereinig is. In Hebreërs 12:14 word ‘n lewe van heiligmaking beskryf. Dit is vanselfsprekend dat ‘n mens eers die ondervinding van heiligmaking moet hê voordat jy ‘n lewe van heiligmaking kan lei. Paulus bid dat die Efésiërs vervul sal word tot al die volheid van God (Ef. 3:19). Die Thessalonicense word tot volkome heiligmaking opgeroep: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thess. 5:23).
Vrae en Antwoorde
Hierdie les behandel die grondbeginsels van ‘n heilige lewe, met besondere verwysing na 1 Petrus 1:13-25. Om die Bybelse basis vir heiligmaking verder na te speur, kan die volgende vrae oorweeg word, saam met die voorgestelde antwoorde:
1. Wat sê die Bybel In Génesis 1:26-27 oor die skepping van die mens?
God het die mens na sy eie beeld geskape en die lewe in hom geblaas.
2. Hoe is die vrou volgens Génesis 2:21-22 geskape?
God het Adam aan die slaap gemaak, ‘n rib uit sy sy geneem en die eerste vrou gemaak.
3. As die man en die vrou na die beeld van God geskape is, hoe is God dan?
a. Ewig (Ps. 90:2; Jes. 40:28; Deut. 33:27).
b. Goed, goedertieren en ontfermend (Ex. 33:19; Ps. 100:5; 145:7; Rom. 11:22).
c. Barmhartig en genadig (Ex. 34:6, 2 Kron. 30:9; Ps. 86:15; 103:8).
d. Heilig (Lev. 11:44; 19:2; Jes. 6:3; 1 Pet. 1:16).
e. Regverdig (Jes. 45:21; Ps. 89:15; 1 Pet. 3:18; Op. 15:3).
f. Lankmoedig (Ex. 34:6; 2 Pet. 3:9).
g. Liefde (1 Joh. 4:7-10).
h. Almagtig (Matt. 28:18; Rom. 13:1; Ef. 1:19).
i. Alomteenwoordig (Ps. 139:7-12).
j. Alwetend (Ps. 1:6; 44:22; 94:11; 1 Joh. 3:20).
k. Waar (Joh. 7:28; 14:6; 17:17).
4. Die mens het ná die skepping ‘n harmonieuse, volmaakte, geestelike verhouding met God gehad. Hoe het sonde in die wêreld ingekom?
God het Adam en Eva verbied om van die boom in die middel van die Tuin van Eden te eet. Indien hulle dit wél sou doen, sou hulle fisies én geestelik sterf (kyk Gen. 3:3). Hulle is deur die slang [Satan] verlei om God se gebod te verbreek en van die vrugte te eet (Gen. 3:6). Sonde het as gevolg hiervan in die menslike geslag ingekom (kyk Rom. 5:12).
5. Wat is sommige van die name vir die natuurlike geneigdheid tot sonde waarmee alle mense gebore word?
Ingebore sonde, ‘n wortel van bitterheid (Heb. 12:15), die vlees (Rom. 8:7; Gal 5:17), vyandskap teen God (Rom. 8:7), die liggaam van hierdie dood (Rom. 7:24), die oue mens (Ef. 4:22), ‘n oorvloed van boosheid (Jak. 1:21), die natuurlike mens (1 Kor. 2:14), vleeslikheid, oorgeërfde verdorwenheid, die Adamiese natuur, en ander.
6. Aangesien mense met ‘n sondige natuur gebore is, hoe kan ‘n regte verhouding met God verkry word?
a. Deur die dood en opstanding van Jesus Christus (Rom. 5:8-11; Joh. 11:25-26).
b. Besef dat jy ‘n sondaar is (Rom. 3:23; Jes. 53:6).
c. Besef dat Jesus vir jou gesterf het (Joh. 3:16; Rom. 5:8; 1 Joh. 4:9).
d. Besef dat God jou wil vergewe (1 Joh. 1:9; Joh. 6:37).
e. Bely en laat staan jou sondes (1 Joh. 1:9; Spr. 28:13).
f. Glo dat jy vergewe is (Joh. 3:15; Hand. 16:31).
Let daarop dat verlossing die vergifnis van dade van sonde is wat jy gedoen het. ‘n Persoon van wie die sonde vergewe is, het nog steeds ‘n natuurlike geneigdheid tot sonde. Dit is die vleeslikheid, of oue mens, waarna vroeër verwys is. Die vleeslikheid kan ontwortel word deur volkome heiligmaking waarvoor daar ook aan die kruis van die Here Jesus voorsiening gemaak is (Heb. 13:12). Volkome heiligmaking stel ons in staat om heilig voor God én die mense te leef.
7. Wat beteken dit om heilig te wees?
Dit beteken om geestelik volkome en suiwer te wees, en afgesonder vir die diens van die Here. Dit is ‘n toestand van ons morele en geestelike natuur wat ons soos Jesus maak, omdat ons aan sy morele en geestelike natuur gelykvormig word.
8. Is dit vir ons nodig om volkome geheilig te wees? Is dit noodsaaklik om heilige lewens in die teenwoordige wêreld te leef?
Die antwoord is: Ja! Neem die volgende skrifgedeeltes as basis vir hierdie antwoord: Gen. 17:1; Lev. 11:44-45; Ps. 24:3-4; Jes. 6:3-5; Matt. 5:8; Luk. 1:74-75; Joh. 17:17; 2 Kor. 7:1; 1 Thess. 4:3, 7; 5:23; Heb. 12:14; 1 Pet. 1:15-16.
Die Bybel maak dit baie duidelik dat God ‘n heilige God is. Hy woon in ‘n heilige hemel en verdra nie sonde, of enige neiging tot sonde nie. Ons moet ons sondes vergewe kry en ons harte van enige neiging tot sonde laat reinig sodat ons heilige lewens voor God én die mense kan lei ten einde in die ewigheid saam met die Here in die hemel te kan wees. Ja, die Bybel leer onteenseglik dat heilige lewens ‘n móét is om ‘n heilige God tevrede te stel!
HEILIGHEID…
Dit word gesien in oortuiging, begin in wedergeboorte, volmaak in volkome heiligmaking, en gekroon in die koninkryk van heerlikheid.
Dit is die vyand van die duiwels, die vriend van die heiliges, die metgesel van die engele en die gawe uit die hemel.
Dit is die bron van Christus se liefde, die saad van sy geboorte, die verhewendheid van sy lewe, die sterkte van sy gehoorsaamheid, die bevrediging van sy dood, die gees van sy opstanding, die skoonheid van sy hemelvaart en die sekerheid van sy wederkoms.
Dit is die fontein van geloof, die glans van hoop, die kleed van geregtigheid, die pad van reinheid en die lig van liefde.
Dit is opgeteken in die geskiedenis, dit sal die weerklank van die ewigheid wees, dit is gehul in goddelike misterie en gegee in ‘n oomblik van tyd. – Herald of Holiness
Inhoud
1. Die Grondbeginsels vir ‘n Heilige Lewe
2. Die Behoefte aan ‘n Heilige Lewe
3. Die Betekenis van Heiligmaking
4. Die Eienskappe van ‘n Heilige Lewe
5. Die Heilige Gees en ‘n Heilige Lewe
7. Die Uitleef van ‘n Heilige Lewe
8. Heiligheid – God se Plan vir die Kerk
9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms
10. Afsondering en ‘n Heilige Lewe
11. ‘n Heilige Lewe in ons Verhoudings
12. Volmaaktheid in die Lewe van Heiligheid
13. ‘n Lewe van Groei in Heiligheid