Regte Begrip van Geloof : Deel Twee
Deur Marius Wolfaardt
Noag se Geloof as Voorbeeld
Hebreërs 11:6-7
“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.”
Iemand het gesê: “The childlike Simplicity of faith is to follow God without Questioning. Faith lets Christ do for us and with us what we Could never do alone.”
Daar is baie mense vandag in die kerke van die Here Jesus wat op ‘n valse fondament staan. Hulle het miskien ‘n tipe geloof, maar nie die geloof wat noodsaaklik is nie, nie die reddende Geloof nie.
In deel een het ons verwys na die twee verskillende tipes:
- Geloof van die hart: ware reddende geloof.
- Verstandelike geloof: valse betekenlose geloof.
Maar, ons wil nou hoofsaaklik kyk na die geloof van die hart: die reddende geloof, met Noag se lewe as ‘n voorbeeld.
Geloof beteken: “Om die sinlose, die Onmoontlike, en die Onverklaarbare te glo. Net omdat God, wie ons Vertrou, gesê het dat dit so was. Om te glo op grond van Sy Woord.”
Om te glo wat ek nie kan sien, smaak, hoor, voel of verstaan nie. Dink baie aan Noag se voorbeeld hier. God het aan Noag Homself geopenbaar!
Purkiser sê: “Faith is man’s Response to God’s Revelation.”
Kenmerke van Noag se Geloof
In ons gedeelte is daar 7 dinge wat genoem word met betrekking tot Noag se geloof. Laat ons dan nou kyk na Sy geloofslewe om ‘n beter begrip te kry van die reddende geloof.
1. Die grondslag van die geloof
Die enigste fondamente waarop Noag sy geloof kon bou, was die Woord van God.
Genesis 6:22:
“En Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.”
Noag het net die Woord van God gehoor met betrekking tot God se oordele. Niks anders was bygevoeg of nodig gewees nie. Vandag werk dit presies dieselfde! Mense word gered slegs deur die lewende Woord.
Johannes 3:5:
“as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.”
Die Water van die Woord, wat toegepas word deur die Heilige Gees.
1 Petrus 1:23:
“want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.”
Sonder geloof in die Woord, is daar nie verlossing nie. Noag, het alles gedoen wat hom beveel het. Sy grondslag was reg.
2. Die Vereiste vir die geloof
Die vereiste om God se Woord te gehoorsaam en te glo, sonder om vrae te vra. Onthou: glo die onmoontlike en die sinlose omrede God so sê. Noag, het geglo: “aangaande wat nog nie gesien was nie.” Dink hieraan: hy het nie reën geken nie, nou hoor hy van die vloed en moet ‘n ark bou… Wat sou ons doen? Ons sou sekerlik vra: “Here maar is u seker…” God, verwag ‘n Noag geloof van ons. Daar is baie dinge wat ons miskien nie kan begryp nie, maar God verwag dat ons Hom moet glo.
3. Die Motief van die geloof
Noag was deur eerbiedige vrees gedryf. Om van aangesig tot aangesig met ‘n heilige God te kom wat regverdig is.Om te sien dat God in Sy heiligheid en regverdigheid sonde moet straf! Die tronkbewaarder in Handelinge 16 se motief na reddende geloof was ook eerbiedige vrees gewees. Eerbiedige vrees is nie ‘n teken van swakheid nie, maar inteendeel ‘n teken van goeie, gesonde verstand en oordeel en versigtigheid. Met ‘n goeie beeld van die Bybel sal jy sê: Sonde, hel en Oordeel.
Noag, die tronkbewaarder, Lot, die Moordenaar aan die kruis, het gevrees. Verskeie het gevrees vir die oordele van God wat aan die kom is!
4. Die Beoefening van die geloof
Dis baie eenvoudig om iets omtrent jou saak te doen. Noag, het iets gedoen! Hy het ‘n ark gebou en dit is ‘n bewys dat hy God geglo het.
Vriende, as jy sê jy glo die Bybel. Het jy iets daaromtrent gedoen? Wat die Woord sê ons moet doen!? Bv. “Kom na Christus en word gered?”
5. Die Omvang van die geloof
Die geloof sos Noag s’n sal nie net by jouself bly nie. Noag, se geloof was nie alleen net genoeg vir homself nie, maar hy het God vertrou vir Sy hele huisgesin.
Die tronkbewaarder se geloof was nie alleen genoeg vir homself nie, maar vir hom en sy huisgesin.
Vriende, is jou geloof genoeg vir jou huisgesin ook? Glo jy God kan jou huisgesin/ familie red? Wel, as jy dit nie glo nie, is dit verstaanbaar hoekom hulle nog nie gered is nie. Ons moenie net belangstel aan ons eie saligheid nie, maar daar moet ‘n begeerte en verlange wees dat ander ook gered kan word.
Belofte: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
6. Die Getuienis van die geloof
Hierdie was Noag se geloofsgetuienis teenoor almal wat in die vloed omgekom het. Elkeen van die mense wat omgekom het, het dieselfde geleentheid gehad as Noag. Om die Woord van God te glo en in die ark in te gaan, maar weens ongehoorsaamheid/ rebellie het hulle die kans verbeer. Dit is presies wat vandag gebeur, soveel dink daar sal nog baie geleenthede wees. Hulle geniet nog vyandskap teen God. Hulle geniet nog sonde.
" Elke ware weergebore kind van God vandag wat uit genade gered is en Jesus Christus aangeneem het as hulle persoonlike Saligmaker en Verlosser, staan as ‘n getuie teen elkeen wat dieselfde geleentheid gehad het, maar weens rebellie Jesus se verlossing verwerp.
7. Die Loon van die geloof
Die wonderlike loon: Noag het 'n erfgenaam geword van die geregtigheid wat volgens die geloof is!
3 Woorde Staan Uit
1. Erfgenaam
Hy wat iets ontvang sonder om iets daarvoor te doen. Hy ontvang waarvoor iemand anders gewerk het. Wanneer hy dit ontvang word dit 'n loon.
2. Geregtigheid
Om Regverdig te wees beteken om reg te wees voor God. Noag was volkome reg voor God as gevolg van Sy geloof in die Woord.
3. Geloof
Noag was nie regverdig uit homself nie, aan die einde van sy lewe het hy ook in sonde geval. Maar, deur sy geloof het hy God se belofte geglo. Dit betekende hy was regverdig deur die geloof, verklaar.
Ek vertrou dat ons vandag deur Noag se voorbeeld, die regte begrip van geloof verkry het. Onthou: “Faith lets Christ do for us and with us, what we never could do alone.”
Vriende, vir my bewys Noag se geloof wat moontlik is, dat ons nie op onsself staat moet maak nie, maar alles oorgee aan God. In en deur Christus is alles moontlik. Reddende geloof is die begin om met God te wandel.
Wil jy jouself nie bekeer vanaf verstandelike geloof na ‘n ware geloof van die hart nie?
Efesiërs 2:8-10
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Soortgelyke Artikels