Die Bybel in Geheel
DEEL 2
Die Nuwe Testament
Die Evangelies
Die Evangelies is seker die mees bekendste deel van die Bybel. Baie mense ken dele van die Evangelies maar min mense verstaan die omvang en doel van hierdie vier boeke. Meeste mense dink dat dit vier lewensverhale is van Jesus.
Die Evangelies is nie ‘n poging om die volle storie van Jesus se aardse lewe te vertel nie. Die Heilige Gees het uitgesoekte gedeeltes saamgevoeg om sekere aspekte van die lewe van Christus uit te druk. Buiten vir vyf hoofstukke handel die res van die boeke oor die laaste drie jaar van Jesus se lewe op aarde. Agt en twintig hoofstukke handel oor die 10 dae tussen sy finale aankoms in Betanië en Sy kruisiging. Die Evangelies gee ook nie ‘n volle vertelling van selfs die laaste jare van Jesus se bediening nie. Johannes sê vir ons dat as alles wat Jesus gedoen het in boeke opgeskryf moes word dat die wêreld self nie die geskrewe boeke sou kon bevat nie (Joh. 21:25).
Die Evangelie skrywers het uitgesoekte insidente gebruik om ‘n unieke beskrywing van Jesus voor te lê. Vir hierdie rede word sommige van die gebeure in net een van die Evangelies gevind, sommige in twee of drie en ander in al vier.
Die gebeure in die lewe van Jesus is nie altyd in chronologiese orde opgeskryf nie. Vir ons lyk dit of die chronologiese orde die korrekte manier sou wees om die Evangelies te skryf, maar hier was dit belangriker om die gebeure so te skryf dat daar geestelike en morele lesse uit geleer kan word.
Elke Evangelie is geskryf om Jesus in ‘n ander lig voor te stel:
Mattheus stel Jesus hoofsaaklik voor as Koning, Markus stel Jesus voor as Dienaar, Lukas as Mens en Johannes stel Jesus voor as God.
Hierdie viervoudige voorstelling van Jesus Christus word gevind regdeur die Ou en Nuwe Testament, soos aangetoon in die volgende tabel:
Mattheus |
Markus |
Lukas |
Johannes |
Koning |
Dienaar |
Mens |
God |
Leeu Esegiël 1:10 Openbaring 4:7 |
Bees of Kalf Esegiël 1:10 Openbaring 4:7 |
Mens Esegiël 1:10 Openbaring 4:7 |
Arend Esegiel 1:10 Openbaring 4:7 |
Spruit (of Seun) van Dawid Jeremia 23:5-6 |
My Kneg, die Spruit Sagaria 3:8 |
‘n Man, die Spruit Sagaria 6:12 |
Spruit van die HERE Jesaja 4:2 |
Kyk, jou Koning kom Sagaria 9:9 |
Kyk, My Kneg Jesaja 42:1; 52:13 |
Kyk, daar kom ‘n Man Sagaria 6:12 |
Hier is julle God Jesaja 40:9 |
Mattheus – Hy het ‘n geslagsregister van Jesus gegee om Jesus se Koninklike reg tot die troon te bewys. Hy het hoofsaaklik aan die Jode geskryf en wou hulle oortuig dat Jesus die Messias is.
Markus – Markus skryf nie ‘n geslagsregister nie want dit is nie belangrik vir ‘n Dienaar nie. Die Evangelie is hoofsaaklik vir die heidene geskryf, die klem val meer op wat Jesus gedoen het (Sy aksies) as op wat Hy gesê het.
Lukas – Lukas skryf ‘n geslagsregister om te bewys dat Jesus waarlik ‘n mens was.
Johannes – Hy skryf geen geslagsregister neer nie omdat Jesus as die Seun van God geen begin gehad het nie.
Somtyds blyk ‘n gebeurtenis om dieselfde te wees in verskeie Evangelies, maar eintlik is dit verskillende insidente. Die reiniging van die Tempel in Joh. 2:13-25 het plaas gevind aan die begin van Jesus se bediening, waar die reiniging in Matt. 21:12-17, Mark. 11:15-19 en Luk. 19:45-46 plaas gevind het aan die einde van Jesus se bediening.
Vertellings van dieselfde insident wat verskil is nie in teenstelling met mekaar nie, maar komplimenteer mekaar. Elke Evangelie gee ‘n ander beskrywing van die woorde wat bo aan die kruis was:
Matt. 27:37 “DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE.”
Mark. 15:26 “DIE KONING VAN DIE JODE.”
Luk. 23:38 “HY IS DIE KONING VAN DIE JODE.”
Joh. 19:19 “JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE.”
As ons hierdie vier saam sit kry ons: “ Dit is Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”
Of die verskille mekaar komplimenteer of nie, hulle is so geskrywe om een of ander geestelike waarheid na vore te bring.
Die Evangelies is nie hoofsaaklik ‘n voorstelling van die weg na saligheid nie, alhoewel dit daarby ingesluit is. Dit is eerder ‘n historiese rekord van die gebeure wat vir ons saligheid bewerk het – die dood, begrafnis, opstanding en verheerliking van Jesus Christus.
Mattheus
Mattheus se Evangelie handel oor die Koning – Sy geslagsregister, geboorte en vroeë jare, die grondreëls van Sy Koninkryk (die bergpredikasie), Sy geloofwaardigheid, verwerping, groeiende opposisie, arrestasie, verhoor, dood, begrafnis en opstanding. Die Profetiese Rede (Matt. 24 en 25) is een van die belangrikste profetiese gedeeltes in die Bybel.
Markus
Hier begin Christus, die perfekte Dienaar, dadelik met Sy bediening. Let op die gebruik van ‘n woord soos dadelik. Hierdie boek is ‘n boek van aksie, die Here Jesus se aksies word beklemtoon en nie so seer Sy woorde nie. ‘n Sleutel vers in hierdie boek is 10:45 “Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”
Lukas
Lukas beklemtoon Jesus as die Seun van die mens. Lukas lê klem op die gebede van Jesus, die simpatie en vergifnis van Jesus word ook uitgedruk. Lukas sê baie oor vroue en kinders en die voorwaardes van dissipelskap.
Johannes
Die rede waarom hierdie Evangelie geskryf is staan in 20:31 “...maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” Daar is 7 wonderwerke of tekens wat Jesus se aanspraak daarop om die Seun van God te wees bewys. Die Here Jesus gebruik die naam EK IS vir Homself sewe keer. Johannes het nege gesprekke van die Here Jesus wat nêrens anders gevind word nie. Die mees bekendste gedeelte in die Bybel is moontlik Joh. 3:16. Johannes word ‘die Evangelie in ‘n neutedop’ genoem, omdat dit so duidelik wys dat ons gered word deur geloof in die Seun van God, wat in ons plek gesterf het om die prys vir ons sondes te betaal.
Handelinge
JB Phillips se omskrywing van Handelinge is ‘Die Jong Kerk in Aksie’. Dit is ‘n baie geskikte titel omdat Lukas in hierdie boek die geboorte en vroeë jare van God se nuwe kerk beskryf. Die storie van Handelinge dek die 34 jaar van die hemelvaart van Jesus af tot waar Paulus die eerste keer in die tronk was in Rome.
Die Apostel Petrus is die hoofrol in hoofstuk 1-12, en Paulus is hierna in die res van die boek.
Handelinge gee nie ‘n volledige geskiedenis van die vroeë kerk nie, maar sekere insidente is uitgelig deur die leiding van die Heilige Gees om die geestelike ontwikkeling van die kerk te wys.
Hand. 1:8 is die sleutel vers van die boek: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” Ons kan dit opdeel as volg:
Jerusalem (1:1 tot 8:1a)
Judea (8:1b)
Samaria (8:1b en vers 4 tot 25)
Die Uiterste dele (9:1 tot 28:31)
Handelinge beskryf die historiese vervulling van Jesus se bevel dat die Evangelie verkondig moet word eerste aan die Jode en ook aan die heidene.
Om die boek van Handelinge beter te verstaan, moet ons verstaan dat dit ‘n oorgangsfase was – dit oorbrug die tydperk van die begin van die kerk (waar die kerk bestaan het uit bekeerde Jode), na ‘n tyd waar die kerk nie net uit Jode bestaan het nie maar ook heidene, almal een in Christus. Aan die begin van Handelinge kom die Christene in die Tempel en Sinagoges bymekaar, maar soos wat die tyd aangestap het, het hulle meestal in huise bymekaar gekom.
Hier is ‘n paar hoogtepunte van Handelinge:
- Die hemelvaart van Jesus (hoofstuk 1)
- Die geboorte van die kerk, die Heilige Gees is op hulle uitgestort op Pinkster dag (hoofstuk 2)
- Die bediening van Petrus en Johannes, en die opbou van opposisie (hoofstuk 3-5)
- Die bediening, arrestasie, verdediging en martelaarskap van Stefanus (hoofstuk 6, 7)
- Filippus neem die Evangelie na Samaria (hoofstuk 8)
- Die bekering van Saulus (hoofstuk 9)
- Petrus neem die Evangelie na Cornelius, ‘n heiden (hoofstuk 10)
- Die Evangelie bereik Antiochië (hoofstuk 11)
- Die martelaarskap van Jakobus (hoofstuk 12)
- Paulus se eerste sending reis (hoofstuk 13, 14)
- Die vergadering in Jerusalem (hoofstuk 15)
- Paulus se tweede sending reis (hoofstuk 16-18)
- Paulus se derde sending reis (hoofstuk 19-21)
- Paulus se gevangenisskap by Cesaréa (hoofstuk 22-26)
- Paulus se reis na Rome en sy gevangenisstraf daar (hoofstuk 27, 28)
Die Sendbriewe
- Dertien van die Nuwe Testament sendbriewe was geskryf deur Paulus, drie deur Johannes, twee deur Petrus en een deur Jakobus en Judas. Die skrywer van die brief aan die Hebreërs is onbekend.
- Efesiërs, Filippense, Kolossense en Filemon is geskryf deur Paulus in die tronk gedurende sy eerste Romeinse gevangenisskap.
- Timoteus 1, 2 en Titus is Pastorale Sendbriewe omdat hulle handel oor die pastorale leiding van kerke.
- Die briewe geskryf deur Johannes, Petrus, Jakobus en Judas is bekend as die Algemene Sendbriewe.
Wanneer ons die Sendbriewe bestudeer is dit belangrik om op te let of die skrywer praat van die gelowige se posisie of beoefening.
Posisie verwys na ons geestelike stand in Christus. Wanner ‘n persoon gered is sien God hom nie meer as ‘n sondaar in sy sonde nie; maar God sien hom as volmaak in Christus. Die posisie van die gelowige is perfek soos Christus s’n, omdat hy in Christus is.
Beoefening verwys na wat ons behoort te wees of is in ons daaglikse lewens. Ongelukkig is ons beoefening vêr van perfek af. Wanneer ons lees dat ons geheiligdes in Christus is, verwys dit na ons posisie. Wanneer ons lees dat ons heilig moet word, verwys dit na ons beoefening.
Die eerste 3 hoofstukke van Efesiërs is posisioneel, dit beskryf wat God se genade vir ons gedoen het. Die laaste 3 is prakties en vertel ons hoe ons behoort te reageer op God se genade.
Die eerste 2 hoofstukke van Kolossense deel met ons posisie en die laaste 2 met ons beoefening.
Dit is ook belangrik om te onderskei of daar geskryf word oor grondbeginsels of nie-noodsaaklike dinge. Die inspirasie van die Skrifte, die Godheid van Jesus en redding deur genade is grondbeginsels, en ‘n verskil in opinies kan hier nie verdra word nie. Maar in ander areas soos die eet van vleis of die onderhouding van Christelike vakansiedae kan opinies verkil. Romeine 14:5 sê “…Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.” Dit tel slegs vir sake wat nie noodwendig reg of verkeerd is nie.
Alhoewel die gelowige nie onder die wet is nie maar onder die genade, is die Nuwe Testament Sendbriewe vol opdragte wat gehoorsaam moet word. Hierdie opdragte word nie as wette vir ons gegee met strawwe daarby as ons dit nie onderhou nie, maar dit is praktiese voorbeelde van hoe ons behoort te reageer op God se genade.
Romeine
In hierdie brief gee Paulus ‘n duidelike verduideliking van die evangelie. Eerstens wys hy dat almal gesondig het, dat God regverdig is en dat Hy sondaars moet straf, maar Hy is ook genadig en wil die mense red. Toe die Here Jesus gesterf het, het Hy as ‘n plaasvervanger vir sondaars gesterf en daardeur die skuld ten volle betaal. Hierdeur het God ‘n basis waarop Hy goddelose sondaars kan regverdig maak. Al wat die sondaar moet doen is om Jesus Christus aan te neem as sy Redder en Heer deur ‘n definitiewe stap van geloof. Na regverdigmaking gaan God ook voort om ‘n persoon te heilig – dit is om ons te bekragtig om ‘n heilige lewe te leef. Die finale stap in God se program is om die geredde sondaar te verheerlik – om ons hemel toe te vat waar ons vir ewig vry sal wees van sonde, siekte en die dood. In Rom. 1-9 verduidelik Paulus dat Israel tydelik eenkant toe geskuif is omdat hulle die Messias verwerp het, en die heidene het nou in ‘n bevoorregte posisie in geskuif. Israel sal weer herstel word wanneer Jesus terugkom. Die laaste 5 hoofstukke lê klem op die praktiese verpligtinge van diegene wat geregverdig is deur die geloof.
1 Korinthiërs
Iemand in die Korinthe gemeente het vir Paulus geskryf oor probleme en vrae wat opgekom het in die gemeente daar. Paulus antwoord vrae soos:
Hoe moet die kerk skeuringe en konflik te hanteer?
Wat moet met ‘n ledemaat gedoen word wat skuldig is aan onsedelikheid?
Is dit reg vir ‘n Christen om na die gereg te gaan teen ‘n mede gelowige?
Wat is die regte houding teenoor seksuele immoraliteit?
Is dit beter vir ‘n gelowige om getroud of ongetroud te wees?
Mag Christene kos eet wat aan afgode geoffer was?
Wat is die nagmaal en hoe moet dit gehou word?
Wat behoort ons te weet van die gawes van die Heilige Gees, hul gebruike en misbruik daarvan?
Hoe belangrik is die leer van die opstanding?
Wat is ons verantwoordelikheid teenoor die armes?
2 Korinthiërs
Omdat die egtheid van Paulus se apostelskap bevraagteken was, verdedig hy hier sy apostelskap, hy lê ook klem op die lyding wat hy deurgemaak het vir die evangelie. Hy vra ook dat die gemeente oorvloedig sal gee vir die armes, soos die voorbeeld wat Jesus vir ons nagelaat het.
Galasiërs
Valse leraars het na die kerke in Galasië gegaan en daarop aangedring dat om die wet te onderhou nodig was vir redding en heiligmaking. Paulus val hierdie leer aan deur te wys dat redding slegs deur genade in die geloof moontlik is. Hy verduidelik die rol van die wet in God se plan en dat die gelowige vry is van die wet. Ons moet of mense of God behaag, vra altyd die vraag af: “As ek dit doen, wie gaan dit behaag?”
Efesiërs
Hierdie kerk was op ‘n goeie geestelike plek. In die eerste 3 hoofstukke bring Paulus hierdie groot waarheid van die kerk na vore, naamlik, dat gelowige Jode en gelowige heidene word versoen deur die kruis van Christus en word tot ‘een nuwe mens’ omskep (Efs.2:15). Nou is gelowige heidene mede-erfgename, mede-lede en mede-deelgenote. Die laaste 3 hoofstukke gee praktiese instruksies hoe die gelowige moet leef, waardig aan sy hemelse roeping. Hoofstuk 2 verse 8-10 is baie belangrik omdat dit wys dat ons gered is deur genade en deur geloof tot goeie werke. Goeie werke is die uitvloeisel van ons redding.
In hoofstuk 1-3 is daar nie opdragte nie, maar ons lees van wat God vir ons gedoen het. In hoofstuk 4-6 lees ons wat ons moet doen nadat ons nou gelees het wat God vir ons gedoen het.
Filippense
Die sleutel woord hier is ‘blydskap’. Paulus was vol blydskap in sy gevangenisskap, omdat sy blydskap nie van sy omstandighede af gehang het nie. Sy blydskap was in Christus en daarom onveranderd. Vir hierdie selfde rede dring hy aan by die Filippense dat hulle hulself altyd moet verbly in die Here. Hy leer hulle dat hulle Jesus se voorbeeld van onselfsugtigheid moet navolg en hy waarsku teen valse leraars. Hoofstuk 2:5 som die boek op in die woorde: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.”
Kolossense
In Efesiërs is die kerk self prominent, in Kolossense is die klem op Christus as hoof van die kerk. Die Kolossense kerk was bloot gestel aan valse leringe wat daartoe gelei het dat hulle hulself besig gehou het met valse tradisies, verordeninge en wettiesheid. Paulus het vir hulle gesê dat hulle besig moet wees met Christus, en dat hulle volmaak is in Hom. Hy gee hier ook praktiese instruksies aangaande ons verhoudings – mans en vroue, ouers en kinders, werkgewers en werknemers.
1 Thessalonicense
Paulus se eerste brief handel hoofsaaklik oor die wederkoms en om gereed te wees daarvoor. Die Christen wat met afwagting wag op die Here se koms het geen plek vir afgode in sy hart nie (hoofstuk 1), het nie traagheid in sy diens nie (hoofstuk 2), het geen verdeeldheid in sy gemeenskap met mede gelowiges nie (hoofstuk 3), soek na heiligmaking en word dit deelagtig (hoofstuk 4), het ook geen sonde in sy lewe nie (hoofstuk 5).
2 Thessalonicense
Hier help Paulus hulle reg omtrent hulle idees oor die wederkoms. Sommige van die gelowiges daar het gedink dat hulle reeds in die groot verdrukking was, daarom het Paulus hulle reg gehelp en hulle geleer dat voor daardie dag aan sal breek sal daar eers ‘n groot afval van die geloof wees en die mens van sonde (die Antichris) sal eers verskyn. Hoofstuk 1 vers 8 waarsku teen die vreeslike oordeel wat oor die ongelowiges sal kom by die wederkoms. Hy sal kom “in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.” Mense sê dat dit te veel kos om ‘n Christen te wees, maar dink aan wat dit gaan kos deur nie een te wees nie!
1 Timotheüs
Hier leer Paulus Timotheüs oor kerklike sake en orde - van die belangrikheid van ‘n gesonde leer, die plek van publieke gebed, die plek van die vrou in die gemeente, die kwalifikasies van ouderlinge en diakens en riglyne aan Timotheüs vir sy roeping as dienaar van Christus.
2 Timotheüs
Die is die laaste brief wat Paulus geskryf het voor sy dood, hy bemoedig en vermaan vir jong Timotheüs. Hy waarsku ook oor groot verval in die laaste dae, en hy dring aan by Timotheüs om sy roeping te vervul deur die Woord te preek en te leer en om te volhard, om rein te leef en vol moed te wees.
Titus
Paulus leer Titus om om te sien na die gemeentes, veral om ouderlinge aan te stel, valse profete stil te maak, en dat die gesonde leer gepaard gaan met goeie werke. Die brief lê grootliks klem daarop dat ons moet doen wat ons sê (‘practice what we preach’).
Filémon
‘n Slaaf met die naam Onésimus het weg gehardloop van sy Christen eienaar, Filémon, en het na Rome gegaan waar hy vir Paulus in die tronk ontmoet het, hy het ook daar tot bekering gekom. Hier stuur Paulus hom terug na Kolosse, nie as ‘n slaaf nie maar as ‘n mede broeder in Christus.
Hebreërs
In die vroeë jare van die kerk was baie Jode aangetrek na die Christen geloof sonder dat hulle noodwendig waarlik wedergebore was. Sommige het so ver gegaan as om hulself te laat doop en by ‘n gemeente aan te sluit al het hulle nog nie die Here Jesus aangeneem en hulself ten volle aan Hom toegewy nie. Maar die oomblik wat hulle openlik die Here Jesus bely het, het hulle families hulle onterf, hulle was afgesny van hul werke, hulle was verdruk deur hul vriende en was onder hewige druk om terug te keer na Judaisme. Diegene wat onder die druk gebuk gegaan het, het hul rug op die Here gedraai en het afvallig geword.
Die skrywer wys dat Christus die vervulling is van die Joodse wette, dat ‘n lewe van geloof die lewe is wat God welgevallig is. Hy dring ook aan by gelowiges om te volhard ten spyte van die verdrukking en lyding wat hulle het omdat hulle Christene is.
Hoofstuk 3:7&8 sê “..Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie..” en dit is nog net so van toepassing vandag as wat dit was vir daardie tyd.
Jakobus
Jakobus was nie geïnteresseerd in godsdiens van woorde nie, maar dat dit prakties uitgeleef moet word. Hy vermaan ook oor diskriminasie, die tong, jaloersheid en om die armes te onderdruk. Hy stem saam met Paulus dat regverdigmaking deur die geloof is, maar slegs deur ‘n geloof wat uitloop in goeie werke.
1 Petrus
Petrus skryf aan Christene wat deur erge verdrukking gaan. Hy herinner hulle dat dit vir God goed is as hulle ter wille van geregtigheid ly, maar nie as hulle ly as gevolg van hul eie sonde nie. Na hierdie tydelike lyding is daar ‘n ewige heerlikheid wat wag. Maar in die tussentyd is God se genade genoeg.
2 Petrus
Die Christene moet te midde van die goddeloosheid van die laaste dae ‘n sterk Christelike karakter opbou. Valse leraars sal baie mense mislei, maar hul dood en oordeel is seker. Christus gaan kom, die goddelose sal hul oordeel ontvang.
1 Johannes
Johannes het teen valse lering gestry, en het daarom daarop aangedring dat Jesus die Christus is wat in die vlees gekom het. Johannes wys ook hoe ware gelowiges behoort te wees – hulle wandel in die lig, hulle erken hul sonde, hulle het broederlike liefde, hulle onderhou God se opdragte, hulle bely Jesus Christus en hulle oorwin die wêreld.
2 Johannes
Hierdie boek wys dat ons deur toe behoort te wees vir enigeen wat valse sienings oor die Here Jesus verkondig, en aan vashou.
3 Johannes
Hierdie boek wys dat ons deur oop behoort te wees vir almal wat ware gelowiges is. Gajus was ‘n voorbeeld van ware gasvryheid. En Diotrefes was ‘n tiran in die gemeente wat opsetlik van God se kinders nie ontvang het nie.
Judas
Net soos 2 Petrus gee Judas ook ‘n duidelike prent van die laaste dae se valse leraars. Illustrasies vanuit die Ou Testament wys dat hul oordeel aan die kom is en dat hul nie daarvan sal kan wegvlug nie. Christene moet hulself opbou in die geloof, gebed, en liefde, terwyl hulle uitsien na die koms van die Here.
Openbaring
God het vir Johannes 3 dinge gewys:
1 Die glorie van Christus (hoofstuk 1)
2 Die ware kondisie van die kerk (hoofstuk 2 tot 3)
3 Die toekomstige gebeurtenisse (hoofstuk 4 - 22)
Laai hierdie studies af in PDF formaat:
1. Die Bybel in Geheel - Inleiding
2. Die Bybel in Geheel - Ou Testament
3. Die Bybel in Geheel - Nuwe Testament