fbpx
Articles
Articles | Tips & Help for the Daily Christian Life |

Grow in Christ

Geestelike Oorlogvoering

Johan Malan - Afrikaanse Artikels

Opsomming: Leer hoe om die stryd teen Satan en sy versoekings te hanteer, en God se wapenrusting aan te trek sodat jy staande kan bly teen die liste van die duiwel.

Wanneer die Bybel van geestelike oorlogvoering praat, het dit 'n persoonlike toepassing op individuele gelowiges in gedagte.  Elke Christen moet 'n geestelike wapenrusting aan hê sodat hy of sy staande kan bly teen die liste van die duiwel. Dit is belangrik om hierdie basiese feit in gedagte te hou, want daar is tans verskeie onbybelse toepassings van geestelike oorlogvoering. Een van die bekendstes is die veldtog, onder die leiding van persone soos C. Peter Wagner en George Otis, om stede en lande van sg. "gebiedsdemone" te bevry. (Dié dwaling word in die "transformasie" artikels elders op hierdie blad bespreek).

Kennis van die volgende aspekte is van kardinale belang vir die Christen se geestelike weerbaarheid teen die aanslae wat die sielevyand op hom maak:

1. Stryd teen die Bose

Die wêreld lê volgens 1 Joh. 5:19 in die mag van die Bose. Jesus het in Joh. 14:30 na die duiwel as die owerste van hierdie wêreld verwys. Paulus sê in 2 Kor. 4:4 dat Satan die god van hierdie wêreld is wat die sinne van mense verblind. Hieruit behoort dit vir elkeen duidelik te wees dat ons nie nou as konings in ‘n vrederyk regeer nie, maar soldate van die kruis is wat teen die vyand van God se koninkryk in ‘n stryd gewikkel is.

Elke ware Christen wat deur die wedergeboorte van die heerskappy van Satan bevry is, is in ‘n geestelike stryd teen die mag van die Bose gewikkel. Nie een Christen is van dié stryd gevrywaar nie. Om hierin te kan oorwin, moet daar doelbewustelik in die krag van die Here teen die Bose weerstand gebied word:

“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Ef. 6:10-13).

Die wapenrusting van God is standaard toerusting vir alle gelowiges om die goeie stryd van die geloof te kan stry. Paulus verwys nie na spesiale toerusting wat slegs vir diegene bedoel is wat met demoniese besetenheid te doen het nie. Hy het die gewone, alledaagse stryd van die gelowige in gedagte.

Hoewel hierdie stryd op ‘n geestelike vlak gevoer word, is dit ‘n baie werklike stryd teen ‘n groot en gedugte mag van demone onder die aanvoering van Satan. Die omvangrykheid van die geestelike oorlog blyk uit die feit dat dit van vyf fronte af teen gelowiges gevoer word. In elke geval neem die vyand ‘n ander gedaante aan en pas ‘n verskillende strategie toe om sy verleidings- en ondermyningswerk te doen. In die vyf hoedanighede kom Satan of een van sy trawante as:

·       teëstander,

·       verleier,

·       misleier,

·       berower, en

·       aanklaer.

Op elk van hierdie vyf terreine moet ons die gedaante en werkswyse van die vyand duidelik kan identifiseer sodat daar doeltreffend teen hom weerstand gebied kan word. Die Bybel sê die volgende hieroor:

1. Teëstander

In die eerste en belangrikste opsig van die stryd word die duiwel as die Christen se teëstander beskryf, wat sy ondergang of skade op alle lewensterreine soek:

“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5: 8-9).

Hierdie posisie van konfrontasie is onvermydelik: die duiwel is ons teëstander wat ons op allerlei wyses teëstaan en struikelblokke in ons weg werp. Ons opdrag is om hom in die geloof te weerstaan en dus ook sý teëstander wees. Ons moet nie ons oë vir sulke kontaksituasies sluit deur dit weg te redeneeer nie. Baie mense skryf probleme van dié aard aan omstandigheidsfaktore of ander oorsake toe, en sien nie die aandeel van die vyand van hulle siele daarin raak nie. Sulke mense soek ook nie na geestelike oplossings vir hulle probleme nie. Hulle hoop maar vir die beste en aanvaar neerlae op ‘n fatalistiese wyse. Hulle is by voorbaat verloorders in die stryd.

Die intensiteit van Satan se teëstand ken geen perke nie, want as mensemoordenaar streef hy daarna om mense dood te maak. Oorloë, gevegte, noodlottige ongelukke, selfmoord, bakleiery en verskeie ander metodes word deur hom gebruik om aan sy moorddadige motiewe uiting te gee. Hy het nie onbeperkte mag oor mense nie, maar binne sy beperkte beweegruimte werk hy met groot lis om sy doel te bereik. Satan en sy demone het ook ‘n groot aantal stadige metodes waardeur hulle mense se lewens verwoes, soos bv. drank, dwelmmiddels en tabak.

Baie vorms van teëstand word in dié oorlog aangewend om Christene moedeloos te maak, van hulle planne in die diens van die Here te laat afsien, die stryd gewonne te gee en in ‘n donker put van depressie te laat wegsink. Hieronder is konflik tussen gesinsgenote, vriende, kollegas en andere. Die bitsige en knaende vyandskap van andersdenkendes, bv. diegene wat godsdienstig en ideologies van jou verskil, kan ook tot moedeloosheid lei. Sulke persone lê dan óf die strydbyl neer óf handhaaf ter wille van goeie verhoudinge en verminderde vyandighede ‘n lae profiel.

Die duiwel kan ook aanvalle op ‘n mens se ekonomiese belange en materiële besittings doen om jou skade te berokken en moedeloos te maak. Al die veelvuldige wyses waarop hy jou aanval, hetsy deur mense of deur omstandighede, moet in die naam van die Here weerstaan en die stryd teen hom voortgesit word. Volg die voorbeeld van die Here Jesus in hierdie opsig, en stry in sy krag teen die magte van die Bose wat ook deur ander mense werk:

“Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:3-4).

2. Verleier

Satan is aktief besig om mense tot morele sondes te verlei. Die vleeslike hartstogte en begeerlikhede van die ou natuur word vir hierdie doel uitgebuit. Deur sondige suggesties en die aanwakker van die sondige natuur word mense tot sondige dade verlei. Hieronder is die volgende:

Onsedelikheid,

hoerery,

owerspel,

brassery,

      dronkenskap,

toorn,

twis,

wraak,

moord,

       hoogmoed,

eiewaan,

gierigheid,

afguns,

roof,

       diefstal,

Omkopery,

Leuens,

Valse getuienis,

Bedrog, en

        Hebsug.

Die oplossing teen sondes van vleeslike verleiding is waaksaamheid, selfbeheersing en gebed:

“Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26: 41).

Ons moet met groot vrymoedigheid in die gebed na die genadetroon nader, want die Here Jesus is die Oorwinnaar wat meer as bereid is om ons te help om in die stryd teen versoekings te kan oorwin. Hy weet wat versoekings is, en deur sy krag en outoriteit kán dit oorwin word:

“Deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb. 2:18).

“Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:15-16).

Ons word ook telkens vermaan om onsself te verloën en die ou natuur te kruisig, anders is ons ‘n oop teiken vir morele sondes (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Trouens, as ons nié die ou natuur aflê en oorgee om gekruisig te word nie, sal oorwinning oor versoekings ons sekerlik ontwyk:

“Wat die vorige lewenswandel betref, [moet julle] die oue mens aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en vernuwe word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).

Sonder ‘n volle oorgawe van hierdie aard sal jy nog ‘n innerlike stryd teen uself voer en nie die liste van die versoeker suksesvol kan weerstaan nie.

3. Misleier

‘n Verdere gedaante waarin die Satan teen gelowiges veg, is dié van misleier. Dit het met godsdienstige misleiding en bedrog te doen. Hy buit mense se onkunde uit en dis allerlei godsdienstige leuens aan hulle op om hulle op ‘n dwaalspoor te bring. Geestelike verval is die noodwendige gevolg hiervan:

“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1).

Verval van hierdie aard is aan die orde van die dag in Christelike kerke (2 Tim. 4:1-4), terwyl geestelike bedrog en leuens ook die grondslag van al die nie-Christelike godsdienste in die wêreld vorm. In die eindtyd sal die gees van dwaling besonder aktief wees om die mensdom te mislei om die Antichris en sy valse profete te vereer en te aanbid:

“Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5).

“Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2).

Verderflike ketterye word in baie van die vooraanstaande universiteite se teologiese fakulteite ingevoer, en sodoende word predikante in hulle studiejare al bedrieg en mislei. Dit is vandag algemeen dat Jesus se maagdelike geboorte en Godheid, sy opstanding uit die dode en die belofte van sy persoonlike wederkoms, asook die goddelike inspirasie van die Bybel, openlik en blatant deur ‘n groot aantal teoloë ontken word. ‘n Ander leuen wat toenemend gehoor word, is dat alle godsdienste dieselfde God aanbid en dus vir dieselfde wêreldmessias wag. Hierdie leuen kom ook van die vader van die leuens en is daarop gemik om die weg vir die koms van die Antichris as die universele messias vir alle gelowe voor te berei.

‘n Gebrek aan kennis oor wat in die Skrifte staan, is die teelaarde vir godsdienstige misleiding. Dit is egter nie nodig om in onkunde voort te leef nie, omdat die volle waarheid oor geestelike sake in die Bybel opgeteken is: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8: 32). As ons Hom maar net wil toelaat, sal die Heilige Gees ons in die hele waarheid lei en ook die toekomstige dinge aan ons verkondig (Joh. 16:13).

Die eindtydse vormgodsdienstiges is deur Satan verblind en het deur hulle eie toedoen en onkunde die stryd teen godsdienstige bedrog en leuens verloor. Hulle het vir hulleself leuenpredikers versamel, die oor afgekeer van die waarheid en hulle gewend tot fabels (2 Tim. 4:3-4). Hulle voer dus nie ‘n geestelike oorlog teen die leuengees van dwaling nie, maar is reeds as buit weggevoer deur die vyand (1 Joh. 4:1-6).

4. Berower

Een van die belangrike strategieë van Satan is om Christene te beroof. Hy wil hulle geestelik én materieel verarm. In plaas daarvan dat mense geestelik groei en aangaan met die Here, wil hy hulle verbitterd en moedeloos maak en laat terugval:

“Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Heb. 12:15).

As die duiwel ‘n mens van jou sielerus beroof en jou geloof verswak, raak jy verbitterd teen jou omstandighede, teen ander mense en selfs teen God. Dit kan daartoe lei dat jy terugval, jou geestelike bediening staak, en ook die genadeloon wat jy volgens die beloftes in 2 Korinthiërs 5:10 en Openbaring 22:12 vir ‘n toegewyde lewe van diensbaarheid by die Here kon gekry het, verloor:

“Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11; vgl. Op. 2:25).

Johannes waarsku ook dat ons op ons hoede teen die berower moet wees wat ons van ons genadeloon wil beroof:

“Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang” (2 Joh. v. 8).

Behalwe die geestelike skade wat die berower mens kan aandoen, is hy ook daarop uit om jou van jou geld, besittings, gesondheid en baie ander dinge te beroof. Hy weet dat wanneer hy dit doen, jy beperk sal word in die mate waartoe jy die Here kan dien en sy werk op aarde finansieel en andersins sal kan ondersteun.

Die duiwel is inderdaad ‘n dief wat kom om in te breek en te steel, en mense op allerlei wyses van hulle erfenis te beroof. Jesus het gesê:

“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Joh. 10:10).

Is jy waaksaam genoeg teen die listige strategieë en verborge planne van die Berower? Besef jy watter groot skade jy jouself én andere kan aandoen deur nie ‘n lewe van waaksaamheid en nougesetheid te leef nie? As jy permissief begin leef en ‘n agterdeur of venster vir die Berower ooplaat, sal hy inkom en verwoesting in jou persoonlike lewe, huishouding, huwelik én werk saai. Dit kan jou duur te staan kom en in ‘n woestyn van neerlaag en moedeloosheid laat beland.

5. Aanklaer

In ‘n belangrike opsig tree Satan ook as aanklaer op in die geestelike oorlog wat hy teen Christene voer. In die eerste plek kla hy hulle by die troon van God aan nadat hy hulle suksesvol verlei of mislei het. Satan het dus toegang tot die troon van God, en sal dit hê tot in die middel van die verdrukking wanneer hy finaal neergewerp sal word:

“...die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aankla voor onse God dag en nag” (Op. 12:10).

Wat hierdie aanklagte betref, gee die Bybel aan ons die volgende versekering:

“Ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2).

Ons moet natuurlik sorg dra dat ons in die lig wandel en alle sondes wat ons gedoen het, onmiddellik bely (1 Joh. 1:7). Daardeur word Satan weer van enige invloedsfeer ontneem wat hy in jou lewe verkry het.

In die tweede plek kla Satan die Christene ook by die ongeredde wêreld aan waarna Paulus as “die teenwoordige bose wêreld” verwys (Gal. 1:4). Hier word ons gehaat en vervolg. Jesus het gesê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê” (Joh. 16:33). Dit is die gevolg van Satan se aanklagte teen die kinders van God. Die doel hiermee is om die Christene in onguns te bring en Christelike voorregte soos Christelike onderwys en godsdiensvryheid van hulle te ontneem.

Derdens kla Satan die broeders by mekaar aan in ‘n poging om broedertwiste aan te blaas en ‘n wig tussen medegelowiges in te dryf. Aan griewe en wraakgedagtes van hierdie aard moet geensins toegegee word nie, want dan kry die sielevyand sy sin en benadeel sodoende die werk van die Here. Weerstaan al die onrusstokery van die vyand en bewaar die vrede tussen die broeders:

“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kol. 3:13).

Jy moet ‘n broeder wat in een of ander opsig struikel “reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal. 6:1). Ons moet wél weerlê, bestraf en vermaan as dit nodig is, maar dit moet in alle lankmoedigheid en lering geskied (2 Tim. 4:2). Moenie dat die duiwel jou beïnvloed om die broeders te verwerp, te haat en selfs te vervolg nie. Sodoende verswak Satan die Christendom en hou hulle met binnegevegte besig. Só sal ons onsself oneindige skade aandoen en nooit die stryd waartoe ons verbind is, kan wen nie.

In die vierde plek kla die duiwel Christene ook by hulleself aan. Hierdeur poog hy om hulle aan ‘n skuldkompleks te laat ly. Hy kla hulle nie net oor hul onlangse sondes aan nie, maar ook oor dit wat lank gelede gedoen is en reeds volkome vergewe is. Deur hierdie ou koeie uit die sloot te grawe probeer hy om ou probleme, griewe en sondes weer te laat herleef en jou op grond daarvan te verdoem en verwerplik te laat voel.

Op hierdie manier takel Satan die vertroue en geloof van ‘n persoon af en vestig ‘n minderwaardigheidskompleks by hom. Die persoon moet dink dat hy só baie sondes gedoen het dat die Here hom nie meer sal vergewe nie. Ook moet hy dink dat hy só ‘n mislukking is dat hy niks vir God kan doen nie. Die suggestie word dan by hom geplant dat hy hom van alle aktiwiteite moet onttrek en ‘n lae profiel hou sodat meer bekwame mense die werk kan doen. Wanneer die ongelukkige slagoffer dít doen, het die aanklaer van die broeders in sy doel geslaag. Dan is daar nóg ‘n soldaat wat uit die linies van die Christendom onttrek het om homself iewers af te sonder en op sy mislukkings, swakhede en verontregting in die lewe te konsentreer. In sy hart is daar ‘n wortel van bitterheid wat deur hernude vleeslikheid en negatiewe herinneringe gevoed word.

Ons moet die dinge wat agter is, vergeet, die geloofsoog op die Oorwinnaar, Jesus Christus, gevestig hou en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, terwyl ons alle laste aflê én die sonde wat ons so maklik omring. Dit is die pad van oorwinning!

2. Oorwinning oor Bose Gedagtes

Verkeerde gedagtes is dikwels die oorsprong van sonde in ‘n mens se lewe, en dit verleen aan Satan ‘n vastrapplek:

“Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor. 10:3-5).

Elke weergebore Christen is by ‘n geestelike oorlog teen sonde, vleeslikheid, wêreldsgesindheid en ‘n dooie vormgodsdiens betrokke. Al hierdie dinge is vestings van Satan waardeur hy werk om sy koninkryk te bevorder.

Die vier teikens wat in 2 Korinthiërs 10:4-5 genoem word, is ten nouste aan mekaar verbonde. Wanneer ‘n vesting van sonde val, dan val saam met dit die planne [strategie], skanse teen die waarheid [morele regverdiging] én die rebelse gedagtes [verkeerde idees] waaruit dit ontstaan het. Christene wat die oprigting van sondige vestings in hulle lewens wil voorkom, moet dus by die vertrekpunt van sonde weerstand bied, naamlik op die gedagtevlak. Hierdie vier vlakke is só met mekaar geskakel:

1. Dwalende en onchristelike gedagtes

Verkeerde idees en voornemens is die vertrekpunt vir sondige dade. Hierdie gedagtes en slegte begeertes kan uit die mens se eie onderbewussyn en vleeslike natuur na vore kom, want: “...elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde” (Jak. 1:14-15).

Dit wat ek met my oë sien, is dikwels die oorsaak van sonde (Matt. 5:28; 1 Joh. 1:15-16). Verleidende gedagtes kan ook uit verkeerde leesstof en opruiende of moreel afbrekende gesprekke voortspruit: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes” (1 Kor. 15:33).

‘n Ander bron van sondige gedagtes is regstreekse beïnvloeding deur die duiwel. Hy kan vurige pyle op jou afvuur (Ef. 6:16) waardeur hy jou gedagtes verwar en onchristelike suggesties by jou plant. Soms kan hierdie gedagtes goed voorkom, maar dan is dit nogtans ‘n bedekte aanval op jou Christelike waardes. Om hierdie rede moet alle gedagtes ondersoek en tot gehoorsaamheid aan Christus onderwerp word. Die duiwel slaag dikwels daarin om Christene se gedagtes geweldig te laat dwaal wanneer hulle bid of na ‘n goeie boodskap luister.

Omdat sonde by gedagtes begin, moet elke gedagte gevange geneem word tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor. 10:5). Indien dit nie gedoen word nie, raak hierdie verkeerde gedagtes gevestig en word ‘n oorsaak tot sonde.

2. ‘n Skans teen die kennis van God

Indien daar nie teen sondige gedagtes weerstand gebied word nie, dan beteken dit dat hulle stilswyend aanvaar en mettertyd in jou hart en verstand gevestig raak. Hierna soek jy morele regverdiging om uitvoering daaraan te gee. Jy beredeneer die saak dan na alle kante toe en begin om jou sondige voorneme goed te praat.

In die proses bou jy ‘n skans vir die leuen in jou lewe. Jy gebruik en verdraai selfs die Bybel om morele en godsdienstige regverdiging vir jou beplande dade te kry. Die duiwel het ‘n Bybelteks aangehaal toe hy die Here Jesus versoek het (Luk. 4:9-11), en hy gebruik nog steeds hierdie metode om die Bybel te verdraai om ‘n skans teen die ware kennis van God op te bou. Só ‘help’ hy jou om in ‘n leuen te lewe en jou deur misleiding teen die  basiese waarhede in God se Woord te verset.

3. ‘n Plan van aksie

Noudat die sondige gedagte gevestig én ‘geregverdig’ is moet ‘n strategie, of plan van aksie, vir die implementering daarvan uitgewerk word. Daar is geen einde aan die vindingrykheid, bose planne, skelmstreke, geheime ontmoetings en knoeiery waarmee mense vorendag kom om uitvoering aan sondige idees te gee nie. As hierdie planne nie verbreek word nie, word hulle uitgevoer en kom die sonde tot volle verwerkliking.

4. ‘n Sondige vesting

Wanneer die sondige daad gepleeg word, word ‘n oorwinning vir die magte van die duisternis in die persoon se lewe behaal. ‘n Vesting word dan vir die betrokke sonde opgerig waarin dit homself ingrawe en verskans. Die persoon word dan ‘n slaaf van daardie sonde en doen dit oor en oor. Dit maak nie saak of dit tabak- of drankverslawing, gewelddadigheid, owerspel, materialisme, leuens, diefstal of wat ook al is nie, maar hierdie sonde kry beheer oor sy slagoffer en regeer hom as’t ware uit die vesting wat in sy lewe opgerig is: “...want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword” (2 Pet. 2:19; kyk ook Joh. 8:34). Met verloop van tyd word die verslawing erger, die vesting van Satan word versterk en nuwe vestings kom by.

Die pad van sonde

Die ontwikkelingspad van sonde wat hierbo bespreek is, is duidelik. Dit begin by die gedagtes wat ongehoorsaam aan Christus is, dan word dit geregverdig, daarna word planne beraam om dit uit te voer, en uiteindelik word die sondige dade gedoen en raak in jou lewe gevestig.

‘n Klassieke voorbeeld van hierdie pad van verleiding is die geval van koning Dawid. Hy het ‘n mooi vrou gesien bad en haar begeer. Hy het nie hierdie gedagte in die lig van God se Woord geëvalueer nie, anders sou hy dit dadelik verwerp het omdat dit strydig met die wet van die Here is: “Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie” (Ex. 20:17).

Hy was oop vir die ‘voorstel’ wat aan hom gemaak is, en het dadelik na fase 2 oorgegaan. Hierin het hy regverdiging vir die gedagte gevind deur ‘n leuenagtige skans teen die kennis van God op te rig en te redeneer dat hy as die koning van Israel enige vrou kon neem wat sy hart begeer.

In fase 3 het hy ‘n bose plan beraam om van die vrou se man ontslae te raak en haar dan vir homself te neem. In fase 4 het hy die plan laat uitvoer, die man se dood op die slagveld bewerkstellig en sy vrou gevat. Hierdie vesting van sonde het egter nie lank in Dawid se lewe gebly nie, want hy het hom grondig daarvan bekeer:

“Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. Red my van bloedskuld, o God, God van my heil!” (Ps. 51:11-16).

Dawid kon homself baie verdriet en ellende gespaar het as hy in ‘n vroeë stadium teen sondige gedagtes en begeerlikhede weerstand gebied het.

Baie mense het in ons tyd vestings van sonde in hulle lewens. Vestings van valse godsdienste word op allerlei bedenklike maniere geregverdig, selfs uit die Bybel. Die sonde van materialisme word geregverdig op grond van die stelling dat ons koningskinders is en alles behoort te hê wat ons oë sien. Sodoende word daar vir die geldgod, Mammon, plek in ons lewe gegee. Een bose vesting berei die weg vir ‘n ander, en almal word deur sondige gedagtes geregverdig.

3. Die Wapens van die Lig

Die stryd waarin ons teen die sonde, die vlees en die wêreld gewikkel is (almal kanale wat deur Satan gebruik word), word primêr op die geestelike vlak gevoer:

“Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp...” (2 Kor. 10:3-4).

Daar is ‘n kragtige arsenaal van ten minste vyf van hierdie wapens van die lig wat vir geestelike oorlogvoering tot ons beskikking is. Ons moet nie net daarvan kennis neem nie, maar ook vaardig in die gebruik daarvan word:

Geloof

My geloofsverhouding met die Here moet baie sterk en onwankelbaar wees, sodat ek my vertroue onder alle omstandighede volkome in Hom sal stel om van my meer as ‘n oorwinnaar in die Here Jesus te maak. Ek moet weet en glo dat Hy wat in my is, groter en sterker is as hy wat in die wêreld is (1 Joh. 4:4).

Sonder geloof in die Oorwinnaar is ek weerloos in die stryd teen sonde en ongeregtigheid. Die volgende tekste onderstreep die feit dat ons in ‘n geestelike stryd is waarin ons geloof in die Here ‘n kragtige oorwinningswapen teen die Bose en al sy planne is:

·       “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Joh. 5:4-5).

·       “...neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Ef. 6:16).

·       “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12).

·       “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8-9).

Blus jy die vurige pyle van die Bose met die skild van jou geloof in die Here Jesus uit, of is jy oop en bloot vir al die verwarrende, verleidende en onrein gedagtes wat die Bose op jou afvuur? Verskans jou in Christus teen die aanvalle van die sielevyand: “Die Naam van die Here is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spr. 18:10). Onthou dat jy net in die Here meer as ‘n oorwinnaar kan wees – nooit in jou eie krag nie.

Die bloed van die Lam

Dit is belangrik om te begryp dat ons oorwinning op die kruisdood van die Here Jesus gebaseer is. Hy het ‘n menslike liggaam aangeneem “sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel” (Heb. 2:14).

Die bloed wat Jesus aan die kruis gestort het toe Hy sy lewe afgelê het, het krag oor al die versoekings en planne van Satan. Op grond hiervan kan alle sondes vergewe en die bande daarvan verbreek word: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).

Gedurende die groot verdrukking, wanneer die duiwel met dubbele woede onder mense op aarde werksaam sal wees (Op. 12:12), sal die Christene van daardie tyd wél almal fisies as martelare sterf, maar geestelik sal hulle die Antichris “oorwin deur die bloed van die Lam” (Op. 12:11). Soek jy geestelik beskerming onder die bloed van Christus wanneer die duiwel jou aanval, en bid jy hierdie beskutting ook oor jou geliefdes en andere af vir wie jy intree? Hulle het almal geestelike beskerming dringend nodig.

Die bloed van Christus is geestelik lewegewend (Joh. 6:53-56), dit reinig ons voortdurend van sonde (1 Joh. 1:7), en verleen ook krag in die stryd teen die Bose (Op. 12:11).

Christelike getuienis

Om jou op die Here Jesus en sy oorwinningswerk aan die kruis te beroep, gaan hand-aan-hand met die vrymoedigheid om in die openbaar daarvan te getuig, asook die bereidwilligheid om vir sy Naam te ly:

“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie” (Op. 12:11; kyk ook Heb. 10:35 en 13:13; Matt. 5:14-16).

Getuienis speel ‘n uiters belangrike rol in die lewe van die Christen. Daardeur bevestig hy sy geloof en doen ‘n basiese geestelike werk waarsonder sy geloof as dood beskou sou kon word (Jak. 2:14-26). Paulus verduidelik die noue verband tussen geloof en getuienis só:

“As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding” (Rom. 10:9-10).

Ons het ‘n staande opdrag om die Here Jesus se getuies in ‘n donker en goddelose wêreld te wees (Joh. 20:21; Hand. 1: 8). Hierdeur is al baie oorwinnings vir die kruis behaal en is die koninkryk van die hemele op ‘n kragtige wyse in baie wêrelddele uitgebrei. Sonder Christelike getuienis en prediking sou miljoene mense in geestelike duisternis voortgeleef het, met hulle sinne wat deur die die god van hierdie wêreld [die duiwel] verblind word (2 Kor. 4:4).

Gebed

Nog ‘n magtige geestelike wapen wat die Here aan ons gegee het, is gebed: “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jak. 5:16). Gebed werk saam met geloof:

“...hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jak. 1:6-7).

Om oorwinnende gebede te kan bid, moet ons “toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete” (Heb. 10:22). Ons moet dus rein en heilig leef. Ons moet ook in die Bybel vasstel wat die wil van die Here is, en in ooreenstemming daarmee bid:

“En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh. 5:14).

Wanneer ek tot die genadetroon nader en myself in gebed aan die genade en almag van God onderwerp, dan vlug die duiwel van my af weg:

“Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7).

Wanneer ek sy aanslae ignoreer, as ‘n illusie wegredeneer, dit deur eie krag of slegs met mediese en sielkundige hulp probeer uitskakel, verdiep die probleem en word dit later monsteragtig groot. As ek egter ‘n gebedsaak daarvan maak, en ook andere se voorbidding verkry, neem ek my toevlug tot die Here en dan verswak die vyand se greep op my dadelik. Deur volhardende gebed sal ek volkome bevryding verkry, en die sielevyand sal op die vlug slaan. Hy sal later weer terugkom, maar dan behoort ek te weet waar my krag en my sterkte is: in gebed neem ek my toevlug tot die Here wat my altyd sal uitred. As hulp in benoudheid is Hy in 'n hoë mate beproef.

Die Woord

Die Bybel is ‘n belangrike deel van die Christen se geestelike wapenrusting, daarom sê Paulus: “Neem die swaard van die Gees op – dit is die woord van God” (Ef. 6:17). Dit is ‘n lewende en kragtige woord wat tot diep in my lewe indring en sy oortuigingswerk daar doen:

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart" (Heb. 4:12; kyk ook Joh. 6:63 en Jer. 23:29).

Die Bybel is die finale maatstaf vir die waarheid, en in die lig daarvan beoordeel ek gedagtes as goed of kwaad. Omdat die Woord soos ‘n skerp swaard is wat tot in die dieptes van my siel indring, kan dit die aard van my gedagtes en motiewe ten volle openbaar. Dit werk saam met my gewete om aan my te toon wat reg en verkeerd is.

Die evangelie van Jesus Christus is ‘n dinamiese krag tot redding vir elkeen wat glo (Rom. 1:16). Dit het die vermoë om elke ongeredde persoon uit satansmag te verlos as hy daaraan glo. Die Woord het ‘n outoriteit en krag wat deur die Here self onderskryf en gewaarborg word: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen" (2 Kor. 1:20). Maak seker dat jy elke dag die vrymakende krag van die Woord in jou lewe ervaar en in die lig daarvan wandel:

“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32).

Is jou voetstappe in die Woord van God geanker?

“Maak my voetstappe vas in u Woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie” (Ps. 119:133)

Ons kán meer as oorwinnaars in die stryd teen die magte van die duisternis wees as ons nie links of regs van die pad van die Here afwyk nie. Verlustig jou in die Here, dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.

Onthou altyd dat van die veelvuldige bedieninge van die Heilige Gees, daar twee grondliggende redes is waarom Hy jou met krag uit die hoogte wil beklee. Die eerste rede is om jou te bekragtig om ‘n getuie vir Christus te kan wees (Hand. 1:8). Die tweede rede is om jou vir geestelike oorlogvoering toe te rus en bekwaam te maak, daarom sê Paulus: “…word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Dit is net vanuit die posisie van ‘n Geesvervulde lewe dat ons kragtige getuies kan wees wat die Bose oorwin.

Featured Articles

Monday, July 10, 2023 False Teachers & Doctrine 1259
Why I Left the Charismatic Church Madelein Wolfaardt I grew up in “happy-clappy” churches. My family church-hopped a bit when I was in primary school. In high school, we got more and more involved in churches that followed the Word of Faith movement. They often invited big names from overseas. We would attend these prophetic or healing and miracle services. We also watched tapes of their so-called ‘Revival meetings’.

Questions Answered

Here are some articles on different topics, see what the Bible says.

/Eienskappe%20van%20God
DIE NATUURLIKE EIENSKAPPE VAN GOD WAT VERBAND HOU MET GOD SE WESE SOOS HY IN HOMSELF IS. Alwetend – God weet alles. Hy het volledige kennis van alles in die verlede, hede en die toekoms. (Job 37:16; Ps. 139:1-6). Almagtig – God…
One has only to examine the Bible to find abundant references condemning the use of alcoholic beverages. In fact, if the preacher is to stick to his Bible, preach the whole truth, and be…
Twee van die sondes waarteen mense ‘n baie verdraagsame houding inneem, is drink en rook. Wat sê die Bybel hiervan, en wat is die gevare wat daaraan verbonde is? Drankgebruik Een van die algemeenste argumente waardeur mense drankgebruik wil regverdig,…
Hell:%20What%20the%20Bible%20Says
An exposition of the doctrine of eternal punishment in a burning hell for all the unsaved people of all ages. 1. How Can We Know About Hell? “There was a certain rich man, which was clothed in purple and fine…
It is important that one understands the phenomenon of apostatising, or backsliding, as every believer should be able to identify and counter this backward course in his or her spiritual life whenever it occurs. If you wish to determine the…
Die onderwerp van die doop is baie kontroversieel met baie misverstande. Baie mense dweep met die doop en dit raak 'n obsessie by hulle. Dit veroorsaak baie keer ongebalanseerde en dwase strydvrae met die gevolg dat Christene twis oor die…
Vergifnis
Vergifnis is ‘n opdrag in die Woord van God (Matt 6:14, 15; Mark 11:25, 26; Luk 6:37; Efes 4:32 en Kol 3:13). Sonder vergifnis is daar geen bevryding van die seer en pyn wat ander jou aangedoen het nie. Die…

Lees meer

Loose Lips Sink Ships
I know this has been used as a catchphrase by the military in referring to ships. However, I believe it could be applied to each one of us today. Loose lips can sink more than naval ships. They can…

Read more

Questions Answered

Questions Answered

Being a Christian and drinking alcohol, what does the Bible say?
The Dangers of Moderate Drinking
John B. Gough (1817-1886) Born in Sandgate, Kent, England in 1817, Gough immigrated to the United States when he was only twelve years old. His mother and sister also came to America. His mother died of a stroke and Gough,…

Read more

Beer and Wine: The Bible’s Counsel
Doesn't the Bible refer in a number of places to wine and strong drink? Don't we quite often find people drinking alcohol in the Bible? Can't we assume, then, that Scripture generally does not condemn drinking alcoholic beverages? It's true that…

Read more

A collection of articles written by FB Meyer. Practical advice for the daily Christian life.

A NEW YEAR is opening before us, and there is some satisfaction in feeling that an opportunity will be afforded of making a really new start. Each true heart in which there is a spark of the Divine life turns eagerly towards the unblemished page, the untrodden way, of the…
BENEATH all exaggeration there is a basis of truth. When an American said that the whey which flowed from the making of a large cheese in his country was sufficient to run three sawmills; and when another affirmed that the soil of his farm was so prolific that the tendrils…
To be straight is to be true. There is no more important exhortation on the page of Scripture, than where the Apostle says, "Whatsoever things are true . . . think on these things." A friend of mine, educated in one of our great English schools, says that the most formative words of…
WHAT a shadow is cast over lives and homes by bad tempers! It is Sunday morning, God's day of rest and peace, when the worry and rush of the world should be quiet, and the voices of newspaper boys and hawkers of small wares should be still. A family of…
No flirting, young people, please! You cannot flit around the flame without the risk of burning your wings; and remember, if these are lost, you cannot get another pair; you may be able to crawl or limp, but you will never again bask in the sunbeams or dance with merry-hearted…
LONGFELLOW'S village blacksmith felt that "something accomplished, something done," had earned a night's repose; and I suppose that he did little else than shoe the farmers' horses, or put new shares to their ploughs; yet he had the perpetual consciousness that he was doing something in the world, contributing to…
No wonder that the common people hung on Christ's words. He was a Master of the Art of Illustration, because he sought his emblems, not from remote corners of creation, or its recondite processes, but from the common incidents of ordinary human experience. Salt and light, birds and lilies, gates…
Everyone needs some guidance on where to start reading and how to read their Bible. Below are Afrikaans & English printables - give it to every young believer that you give a Bible to.
Tips on reading your Bible

Where should I start?

Start by reading a chapter in the morning and evening. Mark in your Bible and write in a notebook everything that stands out in the chapter you read.

Read more

Wenke om jou Bybel te lees

Waar moet ek begin?

Lees jou Bybel in orde, moet nooit rondspring tussen boeke en hoofstukke nie. Hou by jou lees skedule, as jy laas Markus 1 gelees het lees jou nou Markus 2.

Lees meer

Heiligmaking

'n Rein hart gevul met die Heilige Gees

/Volkome%20Heiligmaking
Met die ondervinding van wedergeboorte (Joh. 3:3) én die bevestiging daarvan deur die getuienis van die Heilige Gees (Rom. 8:16), vind ‘n radikale verandering van lewenswyse plaas (2 Kor. 5:17). Hierna volg ‘n proses van selfontdekking wat lei tot die behoefte aan ‘n dieper innerlike verlossing (vrymaking) en reiniging van die inwonende sonde asook die vervulling met die Heilige Gees.
/Gaan
aan%20na%20Volwassenheid
In Heb 3 & 4 wys die skrywer vir ons die wonderlike belofte van God se rus, wat ‘n rein en oorwinnende lewe in Christus is. Hy vertel van hierdie belofte, en dan vermaan hy die Hebreërs in hoofstuk 5:12-14 dat hulle moet voortgaan na volwassenheid want hulle is nog kinders in die geloof.
/Die%20pad%20na%20Heiligmaking
Hier besef die weergebore Christen dat ‘n dieper werk in sy hart benodig word. Dat daar dinge is waaraan hy dalk nog vasklou of sonde wat hy nie wil laat staan nie of hy twyfel en vertrou God nie volkome nie. Hier gaan ons kyk na wat die stryd in ons binneste is en hoe om die pad na heiligmaking te begin.
deur Marius Wolfaardt Christen Leefstyl
Kol 2:6: Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, 1. Watookal die Here vir jou sê, doen dit. Joh 2:5 “Sy moeder sê vir die dienaars: Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.” - Moenie meer of minder doen nie, doen net dit wat Hy gesê het. Matt 28:20 “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” – As ek doen wat Hy sê sal Hy met my wees. Doen wat Jesus sou gedoen het. Meet alles altyd hieraan.
by Marius Wolfaardt Christian Lifestyle
Col 2:6 As therefore ye received Christ Jesus the Lord, so walk in him, 1. Whatever the Lord tells you to do, do it. Joh 2:5 “His mother saith unto the servants, Whatsoever he saith unto you, do it.” Don't do more or less, but, just that which He tells you to do. Mat 28:20 “teaching them to observe all things whatsoever I commanded you: and lo, I am with you always, even unto the end of the world.” If you do what He tells you to do, He will be with you unto the end of the world. Always do what Jesus would do, measure everything according to this rule.
deur Marius Wolfaardt Christen Leefstyl
Hoe hanteer ek dit?

Mat 5:4 Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.
Binne in die moeilike tye is die Here reeds besig om iets nuuts te maak, al sien jy dit nie raak terwyl jy in die vuur is of deur die rivier gaan nie. God het ‘n plan. Rou is natuurlik en is iets wat moet gebeur, dit is ‘n proses om deur te werk, maar daarna moet jy ook aan beweeg en nie hier vasval nie.

Assurance of Salvation

Seker</p>heid
Is jy weergebore?

Seker

heid

Om te WEET DAT JOU SONDE VERGEWE IS en dat Jesus nou in jou hart woon.
Lees meer
Rebirth
What Why How..?

Rebirth

What the Bible teaches us about being born again.
Read More
 Weer</p>gebore
Wat Hoekom Hoe..?

Weer

gebore

Wat die Bybel ons leer van wedergeboorte.
Lees meer
English Sermons

English Sermons

Here is a link if you would like to listen to audio sermons by various preachers. Promoting Genuine Biblical Revival.

Go to website